Hierdie foto is byna 10 jaar gelede geneem. Ek was nog ’n jong joernalis by Beeld toe ek en die fotograaf Felix Dlangamandla opdrag kry om na oudpres. Nelson Mandela se huis op sy plaas by die destydse Nylstroom (Modimolle) te gaan. Ek het draadjies op my tande gehad en ek was skaam om Madiba so te ontmoet.

Toe ons daar kom, was ek en Felix albei sopnat gesweet van afwagting en die drie uur in die werkmotor sonder lugreëling.

Ons het hom net vlugtig voor die voordeur van die stylvolle plaashuis ontmoet. Hy was baie sjarmant. Die oomblik was vir my so groot dat ek amper gevoel het ek moet buig toe ek sy hand skud. Ek het probeer om nie te breed te glimlag nie sodat hy nie my draadjies moes sien nie. Dit het nie gewerk nie.

Hy was jare al nie meer die land se president nie, maar ek het hom “Mister President” genoem, want enigiets anders het nie vir my reg geklink nie; ek het heelpad soontoe geoefen.

Hy was langer as wat ek gedink het en ek weet nie of ek my verbeel het nie, maar dit het vir my gelyk of sy oë ’n blou skynsel gehad het. Dit het my verbaas.

Ons was net ’n kort rukkie by hom, maar ek onthou hoe warm hy was, hoe baie hy in daardie kort rukkie gelag het.

Van senuwees het my ore toegeslaan en gesuis en ná die tyd kon ek byna niks onthou van wat gesê is nie.

Maar ek dink hy het my in Afrikaans gevra waar ek vandaan kom.

“Secunda, Mister President,” het ek geantwoord en hy het geglimlag asof hy die dorp ken en asof hy my ken. En ek was nie meer skaam oor my draadjies nie.

- Marida Fitzpatrik 

Marida is 'n joernalis by Huisgenoot.