In sy neongroen glimbaadjie kan jy hom nie miskyk nie. Op die meeste dae is Calvin-Lee Maelangwie maar in die parkeergebied agter die apteek in Westdene in Johannesburg parkeerplekke aan’t aanwys. En hy het altyd ’n breë glimlag op sy gesig, ongeag die geldjie, want ’n suur gesig bring ’n man niks in die sak nie.

Moet net nie vir Calvin-Lee sommer so op sy glimbaadjie takseer nie. Want dié kêrel wat nou hier met ’n geoefende armswaai beduie waar jy jou motor moet intrek, is niemand anders nie as Suid-Afrika se nuwe hoogspringkampioen.

Dit wil nogal gedoen wees vir ’n 22-jarige lat wat party dae net R20 verdien en soms honger bed toe moet gaan.

By verlede maand se Suid-Afrikaanse atletiekkampioen-skapsbyeenkoms in Durban het Calvin-Lee die land se bes-tes getroef met ’n hoogte van 2,15 m. En dit nogal met ’n paar tweedehandse hoogspringspykerskoene – darem al ’n verbetering op die naelloopskoene waarmee hy eers gespring het.

“My vriend Warren Hendricks, ’n 800 m-atleet, het verlede jaar vir my sy spykerskoene gegee,” vertel hy van daardie skoene. “Ek spring al van hoër-skooldae met enige spykerskoene wat ek kon kry. Ek het nie eintlik ’n keuse nie.’’

Maar toe onthou sy afrigter, CJ Roux, dat Carina du Preez, ook ’n hoogspringatleet in sy oefengroep, verlede jaar vir haar ’n nuwe paar skoene gekoop het. Hy het haar gevra om die oues na die oefenveld te bring in die hoop dat dit vir Calvin-Lee sou pas. Dit was asof die skoene vir hom gemaak is.

“Dit is sy eerste paar hoogspringspykerskoene en van die eerste dag af was daar ’n groot verbetering. Tevore het hy op 2,05 m oor die dwarslat geseil, maar met die nuwe skoene het hy binne net drie weke 2,11 m gehaal en ’n week daarna 2,2 m,” lag CJ, self ’n voor- malige Suid-Afrikaanse hoogspringkampioen.

Met die regte skoene aan sy voete het hulle op sy aanloop en ander tegniese aspekte begin fokus – skoon ’n openbaring vir Calvin-Lee, al dié dinge, want met CJ se koms in sy lewe verlede jaar was dit ook die eerste keer dat hy ’n afrigter gehad het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 April 2010

Bespreek vir Skouspel!