.

[caption id="attachment_115846" align="alignnone" width="600"]Die jonge Claire ken al die woorde van die Disney-treffer Part of Your World uit die 1989 rolprent The Little Mermaid. Foto: YouTube Die jonge Claire ken al die woorde van die Disney-treffer Part of Your World uit die 1989 rolprent The Little Mermaid. Foto: YouTube[/caption]

Claire Ryann Crosby, van Utah in Amerika, het oornag ’n internetsensasie geword met ’n dierbare video waar sy Part of Your World uit Disney se The Little Mermaid sing.

Lees ook: Prins William en Kate reël speelafsprake vir prins George

“Ek het ’n paar maande terug betaal vir ’n olievervanging toe ek omdraai en Claire besig is om Little Mermaid-liedjie in die voorportaal te sing terwyl almal hul foon uithaal om haar op te neem,” het haar pa, Dave, aan KSL vertel.

Toe besluit hy om sy dogter, wat versot is op Disney-flieks, op te neem waar sy die treffersnit uit die klassieke verhaal van 1989 (haar “gunstelingliedjie voor die Frozen-era”) as deel van ’n pa-en-dogter projek op Nuwejaarsdag sing.

Die kleinding ken elke woord. “Sy het op ’n manier dit reggekry om op so ’n jong ouderdom baie goed te praat en woorde uit te spreek en ek dink dit het dit vir haar makliker gemaak om die woorde te hoor en te verstaan sodat sy dit kon memoriseer. Sy het ’n ongelooflike geheue.”

In die skattige video staan Claire – aangetrek soos ’n prinsessie in ’n blink blou rok en strikkie in die hare – agter die mikrofoon en kyk hoe die liedjie geredigeer word.

Lees ook: Vuil kinders = gelukkige, gesonde kinders

Sy was mal daaroor, sê Dave. “Sy’t gevra of sy goed gevaar het en natuurlik het ek vir haar gesê sy was uitstekend en dan het sy seëvierend in die vertrek rondgehardloop.”

Die video het al bykans 2 miljoen trefslae op YouTube, uitsluitend die kere wat dit op kanale gekyk is wat dit weer opgelaai het. En dis baie meer kanale as wat Dave kan onthou. “Die donker kant van ’n video wat ’n treffer word, is blaaie soos Disney Dorks wat jou video van YouTube kopieer en dan kry dit 1 miljoen trefsale,” het ’n omgekrapte Dave op Facebook geskryf.

(Ons het Dave se oorspronklike video vanaf YouTube ingesluit en as jy daarna kyk, sal dit meer trefslae vir sy eie weergawe beteken. – Red.)

Bronne: YouTube, KSL.com, EW.com