Die vrees vir inentings is besig om ons in te haal. Kyk maar na die toenemende gevalle masels in Suid-Afrika en oorsee, veral in die Verenigde Koningryk, die laaste paar jaar. Juis daarom het die National Institute for Communicable Diseases (NICD) gedurende Desember weer ’n waarskuwing uitgereik aan Suid-Afrikaners oor die gevaar van masels.

Volgens die NICD was daar teen 31 Januarie 2015 reeds 66 gevalle aangemeld sedert September 2014. Van die gevalle was 32 in die Noord-Kaap, 16 in Gauteng en vier in die Wes-Kaap. Om ’n idee te gee: verlede jaar was daar in die selfde tyd maar 6 gevalle in Suid-Afrika. Hulle waarsku dat as die probleem handuit ruk, ons weer ’n masels uitbraak sal hê soos in die tyd tussen 2009 en 2011, toe daar ongeveer 18 000 gevalle van masels was.

Masels word deur ’n virus veroorsaak en word deur hoes en nies versprei. Die simptome is koors, ’n hoes, rooi oë en simptome wat baie soos die van griep lyk wat gepaard gaan met ’n uitslag van klein rooi knoppies. Dit kan blindheid, doofheid, diarrhee, ontwatering en selfs dood veroorsaak.

Waarom het mense dan ophou inent? Die vrees kom van ’n studie wat in 1998 in die mediese joernaal The Lancet gepubliseer is wat beweer het sekere inentings, spesifiek die MMR-inenting, kan autism veroorsaak. Maar dié studie is intussen terug getrek deur die joernaal, wat in ’n brief aan lesers bevestig het dat die studie vals was. Die voormalige dokter en navorser verantwoordelik vir die studie, Andrew Wakefield, is ook intussen van die rol geskrap.

Dr. Hanneke Heyns is ’n pediater in Kaapstad en sê mense het al vergeet hoe baie van die siektes lyk waarvoor ons deesdae ingeënt word. “Dis ongelooflik hoe bang almal vir varkgriep was, terwyl kindersiektes in werklikheid baie meer gevaarlik is en die risiko vir sterftes baie hoër is as enige risiko wat jy beloop om ’n inenting te kry. Masels kan langtermyn skade of selfs dood veroorsaak, veral in kinders wat onderliggende immuunsisteemprobleme het soos HIV/Vigs.”

Die Kaapse algemene praktisyn, Dr. Romy Vietri, ondersteun dié siening. Sy sê daar is vier redes waarom sy inentings ondersteun en waarom ouers maar kan gerus wees om hul kinders in te ent.

1. Dit is veilig en effektief. “Ernstige newe-effekte of allergiese reaksies is so raar dat die voordele daarvan om die siekte te vermy baie groter is as die moontlike newe-effekte vir meeste kinders.”

2. Dit kan jou kind se lewe red. “’n Baie goeie voorbeeld van die effektiwiteit van inentings is die feit dat polio so te sê uitgewis is deur inentings.”

3. Dit spaar ty den geld. Dink net aan die mediese kostes as jou kind ernstig siek raak – om nie te praat van die gevolge as jou kind dalk gestremd gelaat word as gevolg van ’n kindersiekte nie.

4. Dit beskerm nie net hierdie generasie nie, maar ook die generasies wat volg. “Kyk maar na die geval van pokke. In die verlede het dit gelei na sterftes en gestremdhede, maar vandag kom dit nie meer voor nie.”