Hulle betrap jou nogal onkant, die manne van Die Heuwels Fantasties. Jip, jy weet dalk hulle kom uit Bellville in Kaapstad. Jy weet waarskynlik ook hulle dra altyd superkoel kepse, brille en byderwetse klere. En jy weet beslis hulle rock op die oomblik. Oud en jonk is gek oor hul innoverende elektromusiek.

Maar as Hunter Kennedy (28) en Pierre Greeff(27) – die groep se twee voorbokke – begin geselsies maak, besef jy gou dié ouens en hul band moet jy nie vlak kyk nie. Toe hulle destyds Die Heuwels Fantasties gestig het, het hulle die ongewone naam uitgedink omdat dit ’n “happy naam is wat niemand vervreem nie”, vertel Hunter.

Jy sal hulle ook nie in hul liedjies hoor vloek nie. Dis ’n beginselbesluit.

Dit ondanks die feit dat Hunter en Pierre albei tot die Fokofpolisiekargeslag behoort, en dat Hunter trouens self ’n Polisiekarlid is.

Nou is die Heuwels se tweede album, Wilder as die Wildtuin, op pad, en pols jy hulle daaroor, beskryf hulle dit as “meer volwasse” en “gemaklik met onsself ”.

En dan: “Reg om jou ma te ontmoet by ’n kroeg in die wildtuin.” Met ander woorde: Selfs jou ma kan alte heerlik saamkuier en sal g’n aanstoot neem nie. Hû? Nie juis ’n aanslag wat jy uit die mond van geharde rockers verwag nie, of hoe?

En wag ’n bietjie, is dit waar dat hulle op die nuwe album saam met Coenie de Villiers sing?

“Dis omdat ons nie vir ons grense stel nie,” sê Hunter filosofies. G’n wonder Die Heuwels Fantasties het binne net twee jaar reggekry waarvan menige ander “alternatiewe” band maar net kan droom nie: verlede jaar ’n Sama vir beste alternatiewe musiekalbum, ’n HuisgenootTempotoekenning in 2009 vir beste kopskuifalbum, en ’n Vonktoekenning vir beste groepalbum in dieselfde jaar, asook ’n MKtoekenning vir beste groep en kampustreffer.

Boonop trek verkope al verby 20 000 vir hul debuutalbum, Die Heuwels Fantasties. Laasgenoemde is einde verlede jaar heruitgereik as Die Heuwels Fantasties Deluxe Edition (Lekker Luisterliedjies vir die Langpad).

“Daarop is 16 liedjies en 14 video’s – dit was nogal ’n proses,” vertel Hunter trots.

“Maar as jy my twee jaar gelede gesê het ons sal vandag hier wees, sou ek gelag het,” voeg hy by en vryf sy boskasie nog meer deurmekaar.

“Aan die begin het ons nie eens gedink ons sal live speel nie, dit was meer ’n eksperiment.”

’n Eksperiment wat werk, lyk dit.

Hulle werk graag saam met ander mense in die bedryf – van Jack Parow tot die Soweto Gospel Choir, en nou ook Coenie. “Ná ons braaidagliedjie op Erfenisdag in 2009 saam met HHP en die Soweto Gospel Choir het ons ook ’n Engelse gehoor bygekry,” vertel Pierre. “Ons doen graag colabs. As ons ’n pel het wat byvoorbeeld goed tromboon speel, nooi ons hom om saam met ons te speel.”

Só het hulle al saam met Laudo Liebenberg van aKing, Francois van Coke van Fokofpolisiekar en ook Adriaan Brand van Springbok Nude Girls-faam gewerk, en einde verlede jaar saam met Jack Parow in Nederland opgetree. Die liedjie Die Vraagstuk op hul debuutalbum is juis saam met Parow opgeneem.

“Dit was ons derde keer daar, maar die eerste keer saam met Parow. Hy is massive in Nederland,” sê Hunter.

Lees die volledige artikel in die Herfs 2011-uitgawe - nou landwyd beskikbaar.

Vyf lesers kan elk ’n kopie wen van Die Heuwels Fantasties se splinternuwe album Wilder as die Wildtuin. SMS die woord wild, die antwoord op ons vraag, jou naam, van en besonderhede na 34922. Die kompetisie sluit op 25 April om 17:00. Elke sms kos R1,50. Vraag: In watter Europese land het DHF verlede jaar saam met Jack Parow opgetree?