Die hertog en hertogin van Cambridge trek vandeesweek na die Kensington-paleis.

Die koninklike egpaar verhuis binne die volgende paar dae na hul nuwe Londense tuiste, wat teen ’n koste van R24 miljoen opgeknap is. Hulle woon tans by haar ouers, Michael en Carole Middleton, in Bucklebury.

’n Bron het aan die Daily Express gesê: “Hulle kan nie wag nie. Hulle sien baie daarna uit om die plek in te rig soos hulle dit wil hê en tot rus te kom.”

Hul nuwe vier-verdieping-woonplek het 20 vertrekke. Daar is vyf onthaalkamers, drie slaapkamers, ’n klompie aantrekkamers en badkamers, ’n dag- en nag-kinderkamer, slaapkamers vir personeel en bykomende vertrekke.

Koningin Elizabeth II het Catherine waarskynlik toegelaat om die nuwe huis met oudhede uit die koninklike versameling te meubileer.

Die jong egpaar het tydens ’n besoek in 2011 aan prins Frederik van Denemarke en sy vrou, prinses Mary, ’n blink idee vir binneversiering gekry. ’n Bron het vertel: “Mary het hulle gewys hoe lyk hul woonstel in die Amalienborg-paleis. Kate en William het gehou van hoe hulle hul versameling moderne kuns met antieke meubels kombineer het. Kate wil dit ook in sommige vertrekke in die Kensington-paleis doen.”