Nadat hulle Sondag met ’n British Airways-vlug by die John F. Kennedy-lughawe geland het, is die paartjie met ’n konvooi na die Carlyle-hotel in die Upper East Side vervoer. By die hotel is hulle deur honderde jillende aanhangers begroet.

Al is Catherine swanger, sal sy glo in haar tyd in New York en Washington D.C. aan baie aktiwiteite deelneem.

“Haar program is so saamgestel dat dit in ag neem dat sy vyf maande swanger is en aan die begin van haar swangerskap siek was,” het ’n bron aan die Britse koerant The Telegraph gesê.

“(Maar) die hertogin het gesê as sy daarvoor kans sien, sal sy graag haar man Dinsdag na die Empire State-gebou vergesel.”

Die ikoniese baken het die paartjie verwelkom deur die die bokant van die gebou te tooi in rooi, wit en blou, die kleure van die Britse vlag.

Die hertog en hertogin van Cambridge gaan glo die Amerikaanse president, Barack Obama, en sy vrou, Michelle, tydens hul besoek aan die Amerikaanse ooskus ontmoet.

Hulle gaan ook na verwagting ’n Brooklyn Nets-basketbalwedstryd bywoon, waar hulle na bewering beplan om Jay-Z en Beyoncé Knowles te ontmoet.

© Cover Media