'n Mens is skaars twee treë by Manie Jackson se huis in, dan weet jy: Dis Bles Bridges-kontrei dié.

Want hier hang ’n groter as lewensgroot skildery van Bles waarop die minnesanger in groot swart letters geskryf het “Liefde Bles Bridges”. Daaronder staan die inspirerende boodskap “Reik na die sterre”.

Jy word ook so met die intrapslag begroet deur ’n borsbeeld van Bles waarop Bles se eie Amerikaanse Stetson-cowboyhoed pryk.

“Bles het die skildery op 11 Februarie 2000 onderteken,” vertel Manie (30), “kort voor hy op 24 Maart daardie jaar oorlede is. Die Stetson-hoed kom uit sy eie kroeg en was op sy borsbeeld daar. ’n Advokaat-vriend van Bles, Louis Kotzé, het dit ná sy dood gekry en hy het dit onlangs vir my gegee.”

Teen die muur hang Bles se geraamde album-toekennings – wat Manie by Bles se seun Victor gekry het – gerangskik volgens hul verkope: dubbelplatinum, platinum, goud.

Manie, wat in 2000 ’n paar maande lank die sekretaris van die nou ontbinde Bles Bridges-klub was, vertel trots, asof dit sy eie prestasie is: “Bles het meer as twee miljoen plate verkoop.” Hy tik op een. “Hierdie plaat, I’m the Eagle, You’re the Wind, het uiteindelik driedubbele platinumstatus bereik – dis verkope van meer as 150 000.”

Daar is bewondering in Manie se stem en ’n mens kan dit verstaan. Want ná tien jaar in die bedryf spog hy self deesdae met ’n goue album. Hoewel hy reeds sowat 12 jaar lank oor die land heen optree en al 10 CD’s opgeneem het, is dit sy nuwe album met die titel Manie Jackson wat van die rakke vlieg.

Sy treffer Die Hemel Weet boer op die trefferparades en amper 15 000 mense het al op YouTube na die musiekvideo daarvan gekyk. In die eerste drie maande nadat die nuwe album in September verlede jaar uitgereik is, is meer as 20 000 kopieë daarvan verkoop, en ’n mens verstaan Manie se opwinding as hy jou vertel dat hy in die tien jaar voor die nuwe album altesaam net 20 000 CD’s verkoop het.

Nie dat hy skaam is daaroor nie. “Ek is ’n performer. Ek hou van optree.” En hy sal weet, hy het immers by Bles geleer hoe . . .

Lees die volledige artikel in die Herfs 2011-uitgawe van HG-Tempo.