[caption id="attachment_120581" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Jack Richardson (37) het die tydskrif The Big Issue (’n tydskrif wat haweloses verkoop) in 2013 in Bristol verkoop toe hy Toni Osborne (47) genader en haar gevra het of sy kleingeld het. Maar in plaas van om hom uit te help, het sy in trane uitgebars. Toni – wat weens gesondheidsprobleme nie kan werk nie – het vir Jack vertel sy kan nie eens bekostig om haar elektrisiteitsrekening te betaal nie. En in ’n welwillendheidsgebaar het hy toe vir haar R11 (50 pennies) van sy eie geld gegee. ’n Romanse het tussen die twee ontluik en die paartjie het vroeër vandeesmaand trou aan mekaar beloof.

Jack onthou die dag van hul ontmoeting.

“Dit was amper Kersfees in 2013 en ek het na hierdie vrou toe gestap om haar vir geld te vra en sy het net in trane uitgebars. Sy het alles klaar gekoop vir Kersfees en gedink sy’t genoeg geld vir elektrisiteit oorgehou, maar dit was nie genoeg nie. Sonder die ekstra geld sou sy Kersfees in die donker moes deurbring. Hoewel ek die bedelaar was, het ek vir haar 50 pennies gegee om haar ligte weer aan te kry.”

Die twee het mekaar daarna elke tweede week gesien en uiteindelik het hul vriendskap in iets meer ontwikkel.

Lees ook: Sewe warrelwindromanses onder bekendes

Toni het kort voor lank vir Jack ’n dak oor sy kop gebied toe sy kamer waar hy in ’n ondergronde parkeerterrein geslaap het, gesloop is. Dis toe dat hy sê hulle “halsoorkop verlief geraak het”.

Toni sê toe Jack verlede November die ja-woord vra op dieselfde plek waar hy haar die eerste keer vir geld gevra het, het haar “hart ontplof”.

Hul “droomtroue” was by die St. Paul-kerk in Bristol en is danksy die goedhartigheid van vreemdelinge moontlik gemaak nadat hulle verskeie aanbiedings om hulp gekry het van mense wat hul dag spesiaal wou maak.

[caption id="attachment_120582" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption] Hulle het geld geskenk vir Toni se rok en selfs vir die paartjie se trouringe; ’n paar Big Issue-klante het koeke vir die onthaal gebak en wynhandelaars, fotograwe, haarstiliste en die predikant het hul dienste gratis aangebied. Een man het selfs aangebied om sy Armani-pak vir Jack vir die groot dag te leen! “Ek’s in die wolke,” sê die bruidegom. “Ek’s die trotsste man op aarde. Mense se vrygewigheid het my stomgelaat. Ek wou vir my geliefde die troue gee wat sy verdien, maar ek kon nie. Maar danksy almal se goedhartigheid het dit ’n werklikheid geword. Ek voel asof ek in ’n sprokie leef.” Sy bruid het laat hoor: “Ek is mal oor hoe dit mense se harte aangeraak het. Mense het vir ons kom sê: ‘Ek het nooit gedink ek sou verlief raak nie, maar ek het julle storie gehoor en nou gee dit vir my hoop vir die toekoms’.”

Lees ook: Ontmoet Gizmo en Nonnie, die twee Yorkies wat onlangs trou aan mekaar beloof het

Hulle kan nog nie ’n wittebrood bekostig nie, maar gaste het geld geskenk sodat Jack ’n tydjie van sy werk as verkoopsman van die Big Issue kon afknyp om tyd saam met sy nuwe vrou deur te bring.

Hy sê om Toni te ontmoet het hom “gered”.

“Ek was op ’n slegte plek in my lewe toe ek Toni ontmoet het. Ek moes elke dag bedel om genoeg geld te kry vir ’n aand in ’n bed-en-ontbyt-plek. Elke dag was ’n stryd. Ek het dit al oorweeg om my eie lewe te neem. Ek kon nie ’n manier uit die situasie sien nie en dit het net gevoel asof dit al hoe moeiliker raak. Ek kon nie ’n toekoms sien nie. Maar nou het ek iemand stabiel wat ek liefhet en wat my liefhet. Ek kan uitsien na die toekoms.”

Jack studeer nou vir ’n Open University-graad in sielkunde en sosiologie en hoop om mense te help om van die strate af te kom wanneer hy graad vang.

Hy is nou gelukkiger met Toni as wat hy nog ooit was.

“Toe ons die eerste keer ontmoet het, het ek in ’n parkeerterrein geslaap maar sy het verby dit gekyk. Sy het ’n menslike konneksie gemaak. My ma is dood toe ek 13 was en ek is in ander se sorg geplaas. Ek het aan ernstige depressie gely en om eerlik te wees kon ek nie meer goed voel nie. Ek was nog nooit in my volwasse lewe so gelukkig nie.”

Kyk hier na die video:

– Deur Latashia Naidoo

Bronne: dailymail.co.uk, bbc.com, theguardian.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

Chi Chi kan weer hardloop ná sy gemartel is ‘om haar vleis sag te maak’

Gaan die vonke spat in die Laan?

Dié maatreëls maak jou huis veiliger

Die foto wat die internet dronkslaan: hoeveel meisies is daar?

Dié gewilde video (wat agteruit speel) van ’n man wat tamaties sny, is vreemd strelend