A photo posted by Bindi Irwin (@bindisueirwin) on

Bob Irvin, pa van “Die Krokodiljagter”, het ter herdenking van sy seun se tragiese dood ’n dekade gelede ’n hartverskeurende brief vir die wêreld gewys wat Steve 12 jaar voor sy dood aan hom geskryf het. “Liewe Pa & Ma,” lui die tranetrekkerbrief in Bob se nuwe boek, The Last Crocodile Hunter: A Father and Son Legacy, wat in November uitgereik word.

A photo posted by Bindi Irwin (@bindisueirwin) on

“Waarskynlik een van die ongelukkigste dinge in ’n ou se lewe is dat dit meer as 30 jaar verg om te besef wat ’n wesentlike rol julle gespeel het om my karakter, my beginsels en, die heel belangrikste, my geluk, te bou.

Op 32 begin ek dit eindelik uitpluis. Julle was in die goeie en die slegte tye daar. Jul krag en uithouvermoë om my groot te maak sal nie onbeloon gelaat word nie.

My krag lê in my liefde vir julle! Vir die res van my lewe sal ek put uit die ongelooflik fantastiese tye wat ons saam gehad het en nog sal hê. Julle is my beste vriende.”

“Dankie, Steve.”

Lees ook: Steve Irwin se dogter geld geweier omdat sy nie kan bewys haar pa is dood

Bob het eers vanjaar die merkwaardige brief ontdek – in ’n toe koevert. “Wees asseblief gelukkig in die wete dat jul krag en wysheid (na my) oorgedra is,” lui die woorde op die koevert.

“Terwyl ek aan die boek gewerk het, is ek deurentyd herinner aan Steve se oneindige energie, aansteeklike humor en onbeperkte passie vir die natuurlewe tydens ons veels te kort tyd saam,” het Bob aan NT News gesê.

“Maar hy is steeds hier, steeds by my, en ek kan krag uit hom put. Waarvoor hy gestaan het en wat hy kon bereik, beteken net soveel soos toe hy hier in die fisieke wêreld was.”

Hy het ook gesê hoe trots hy daarop is dat sy seun soveel mense geïnspireer het. “Ek is regtig trots daarop. Ek hoop hierdie stories kan ons herinner aan die grootsheid van sy nalatenskap, ’n nalatenskap wat ons nie net geleer het hoe belangrik dit is dat ons weer met ons omgewing in verbinding kom nie, maar om dit passievol te doen.”

Bronne: ntnews.com.au, facebook.com