Die reuse haelstorm wat Pretoria en Middelburg vandag getref het, het omvattende skade aan eiendomme en voertuie aangerig. Daarom het ons dit goedgedink om Suid-Afrikaners aan te raai om waaksaam te wees en hulself en hul bates tydens die haelseisoen te beskerm.

“Hoewel voertuie gewoonlik die ergste deurloop, rig groot haelstorms ook miljoene rande se skade aan dakke, vensters, skuifdeure, dakvensters, tuin- en buitemuurse toerusting aan. Maak seker jou voertuig-, huiseienaars- en huishoudelike versekering dek jou behoorlik teen skade wat deur hael veroorsaak is,” sê Warwick Scott-Rodger, hoof van Dialdirect Insurance.

Hier is ’n paar goed om in gedagte te hou tydens ’n haelstorm:

  • Hou ’n ogie op die weervoorspelling wat jou oor ’n naderende haelstorm kan waarsku.
  • As jy in ’n plek is wat skuilding teen ’n naderende storm kan bied, bly eerder daar tot die storm bedaar het.

As jy jou op die pad bevind:

  • Moenie onder bome parkeer nie, want daar is ’n risiko dat takke en puin kan val.
  • Soek skuiling as jy op die pad is en in ’n haelstorm vasgevang word. Dit kan ’n bedekte parkeerterrein of ’n petrolstasie insluit. Wees veral versigtig as jy aftrek, skakel jou gevaarligte aan, en moenie jou veiligheid of dié van ander waag deur wild te hardloop na skuiling nie. Bly in jou motor en verlaat net die veiligheid van die beskutte plek as die storm verby is.
  • As daar nie skuiling naby is nie, word motoriste aangeraai om af te trek langs die pad indien dit veilig is. Haelskade is onvermydelik in ’n onbeskutte plek, maar dis veiliger as om deur die storm te bestuur terwyl sigbaarheid swak en die paaie glad is.
  • Onthou dat ’n skielike daling in temperatuur tydens ’n haelstorm gaan beteken dat jou motorruite meer gaan toewasem, wat sigbaarheid belemmer, so maak seker jou motor se ontwasemer werk behoorlik.

Wat om by jou huis te doen:

  • Hou geute skoon en rommelvry om ys en water weg van die dak te vervoer.
  • Skuif soveel toerusting en meubels onderdak as kan as daar ’n swaar storm voorspel word.
  • Dakstrukture moet nagegaan word om te verseker dit sal nie ingee onder die gewig van die hael indien daar ’n verstopte dreineringstelsel is nie.

Intussen word nog storms vir later vandag in Gauteng voorspel.

Bron: Dialdirect-persvrystelling