Huisgenoot se Deon Lamprecht gee sy ontleding van vandag se skoknuus dat Donald Trump die Amerikaanse verkiesing gewen het: Die Demokrate se Hillary Clinton, volgens meningspeilings die gunsteling om te wen toe die stembusse Dinsdag oopgemaak het, het Woensdag omstreeks 09:30 Suid-Afrikaanse tyd vir Trump gebel om bes te gee en hom geluk te wens. Met al die verkiesingsuitslae nog nie bekend nie het Trump toe reeds 276 van die 270 kieskollege-stemme gehad wat nodig is om te wen.

Amerika is nie meer dieselfde nie.
“Ons sal almal regverdig behandel,” was die aangewese president Trump se eerste woorde aan die wêreld. Hy het die spreekwoordelike olyftak na Hillary uitgehou deur haar te bedank vir al haar harde werk vir Amerika – en daarmee ook waarskynlik vir haar die boodskap gestuur: “You’re fired!”
Ure voor Hillary boedel oorgegee het, was die skrif reeds aan die muur en het Amerikaanse politieke ontleders geworstel met die vraag: Hoe is dit moontlik?
Hulle stem saam die rede vir die skokuitslag is dat Amerikaners volgens klas, inkomstegroep en ras gestem het – en nie volgens tradisionele party-lyne nie. Die wit werkersklas van Amerika, wat duidelik voel hulle behoeftes word oor die hoof gesien ten gunste van ander rassegroepe, die rykes en immigrante, het in groot getalle vir Donald Trump gaan stem. Vir wit, patriargale mans – omtrent die enigste demografiese groep vir wie wat Trump nog nie beledig het nie – maak sy seksisme en rassisme nie saak nie. Vir die Trump-ondersteuners was die Amerikaanse politieke establishment nog altyd vir hul probleme verantwoordelik – en Clinton is vir hulle deel van daardie establishment. Die veglustige, aanstootlike Trump met sy vloermoere het hulle oortuig hy is hulle kampvegter teen die establishment-elite.

Maar dis duidelik dat ook heelwat liberale jongmense wat vir die eerste keer stem – en wat aanvanklik vir Bernie Sanders as die Demokratiese kandidaat wou sien – nie oorgeloop het na Clinton bloot omdat sy ’n Demokraat is nie. Ook hulle is moeg vir die establishment en het volgens aanduidings nie gaan stem nie. Hoekom was die meningspeilings verkeerd? Die antwoord, meen kommentators, is dat die gemiddelde Trump-ondersteuner die media as deel van die establishment sien en wantrou en daarom nie wou verklap hoe hulle gaan stem nie. In nog ‘n skok vir die Demokrate het swart Amerikaners, op wie se steun Clinton staat gemaak het, nie in groot genoeg getalle gaan stem nie. In hierdie waterskeiding-verkiesing was daar oorweldigende steun vir Trump in die platteland – waar baie van die wit, laer-inkomste wittes woon. Clinton se steun was hoofsaaklik in die stede.

Binne ure gaan Amerika baie moonlik nooit weer dieselfde wees nie.

So het Twitter reageer