DIE geur van ruikers rose, pronkertjies en orgideë hang swaar in die lug waar Tendai ‘‘Beast’’ Mtawarira (22), uitgevat in ’n wit pak, onder ’n dakkie in ’n tuin vol lenteblomme staan en wag.

Die Bokstut se strooijonker en mede-Bok, Chiliboy Ralapela, vroetel vir oulaas met sy das en Beast kry dit reg om senuagtig te glimlag. Vandag hier in Kloof in Durban is dit die groot dag, die een waarop hy plegtig ja sal sê wanneer die pastoor vra of hy Kuviza Makhure (19) as vrou neem.

Die twee ma’s sing vir haar ’n tradisionele lofgebed met wense dat sy met ’n vrugbare huwelik geseën sal wees. Dan, terwyl die vroue ululeer, stap sy haar bruidegom tegemoet.

Waar Beast tussen twee reuse kruise van wit rose staan, kan hy nie meer wag om sy bruid te sien nie. Hy rek sy nek om oor die gaste se koppe en deur die welige plantegroei om die swembad ’n glimps van haar te kry.

Dis ’n gereelde huwelik, maar tog is hulle smoorverlief. Al is hul Zimbabwiese families baie na aan mekaar, het hulle mekaar eers verlede jaar ontmoet nadat hul ma’s kop bymekaar gesit het. Beast en Ku is albei toegewyde Christene en het vertrou hul ma’s sien iets raak wat tot ’n lewenslange liefdesverhouding kan ontwikkel.

‘‘My ma het iets volmaaks in Ku gewaar,’’ het Tendai vroeër vertel. ‘‘Ons is baie na aan ons ma’s, daarom het ons vertrou dat hulle weet ons sal perfek by mekaar pas.’’

Lees die volledige artikel en sien al die troufoto's in die Huisgenoot van 23 September 2010.