Hierdie was omtrent 'n groot jaar vir liefhebbers van Afrikaanse musiek. Nie net het byna elke groot kunstenaar 'n nuwe album uitgereik nie, daar het ook talle nuwelinge op die toneel verskyn.

Hier is die grootste vyf Afrikaanse musiekvideos van die jaar.

5. Êrens in die Middel van Nêrens - Elvis Blue

Die gewilde Elvis Blue het spesiaal na Indonisië gereis om hierdie musiekvideo vir sy trefferlied Êrens in die Middel van Nêrens op te neem. Dié lied is ook die titel van sy tweede Afrikaanse album wat ook vanjaar verskyn het. Hiermee het Elvis opnuut bewys dat hy 'n unieke, vars klank tot die Afrikaanse musiekbedryf kan voeg.

4. Geskeurde Jeans - Karlien van Jaarsveld

Vanjaar was 'n besige jaar vir dié sangeres en ma van twee, maar haar grootste treffer was beslis Geskeurde Jeans. Binne 24 uur ná die video die eerste keer op YouTube gelaai was, is daar reeds meer as 18 000 keer daarna gekyk. Die totaal staan nou al op meer as 415,000. Geskeurde Jeans spog met pragtige strandtonele en blou lug. Tog het Karlien geskerts: “Dit was die koudste musiekvideo shoot ooit! Kan ons asseblief volgende keer in die somer skiet?”

Lees ook: Vyf voertuie wat in 2015 ons aandag getrek het

3. Ballade vir 'n Enkeling - Die Heuwels Fantasties

Die nuwe fliekweergawe van die geliefde dramareeks Ballade vir 'n Engeling het vroeër vanjaar skoonskip by die loket gemaak. Die bekende temalied, destyds gesing deur Richard van der Westhuizen, is nes die fliek 'n nuwe baadjie aangetrek. Die rock-groep Die Heuwels Fantasties het wondere met die deuntjie en lirieke verrig en dié treffer van die 1980's toeganklik vir vandag se generasie jongmense gemaak.

2. Stop, wag, bly nog 'n bietjie - Brendan Peyper

Een dag uit die niet uit verskyn daar skielik hierdie welgeskape jong knaap van Bloemfontein wat die Afrikaanse musiekwêreld omtrent op sy kop keer. Ons praat natuurlik van die skoongesig Brendan Peyper wat meisies se knieë lam gehad het met sy perfekte blokkiesmaag en sterk armspiere. En dan is sy eerste treffer, Stop, wag, bly nog 'n bietjie, boonop ook 'n aansteeklike treffer wat mens nie kan help om saam te sing nie. Daarom is dit geen verrassing dat dié video al byna 450,000 keer op YouTube gekyk is nie.

Lees ook: Hierdie is ons top 5 flieks van 2015

1. Toe Vind ek Jou - Karen Zoid en Francois van Coke

Geen ander Afrikaanse treffer het vanjaar al wat 'n radiostasie is so oorrompel soos Karen Zoid en Francois van Coke se lied Toe Vind Ek Jou nie. Dit het omtrent geboer op al wat 'n trefferparade is, insluitend die gesogte iTunes-topverkoperlys. Die idee vir dié twee om saam aan 'n lied te werk, het gekom ná Francois 'n gas was op Karen se gewilde kletsprogram Die Republiek van Zoid-Afrika. En almal was dit eens: hierdie is musiek waarvan ons hou! Soveel so dat daar reeds meer as 'n miljoen keer na hierdie video gekyk is. Staan opsy, Biebs!