Kinderkos moet gebalanseerd wees met bestanddele uit elk van die vyf voedselgroepe en kosblikke is geen uitsondering nie. Ons gee lekker idees oor wat om in te pak:

Proteïene – twee per dag

  • ’n Vleisporsie is so groot soos die kind se handpalm en so dun soos sy pinkie.
  • 30 g vleis of 1 eier of ½ k gekookte peulgroente (droë bone, lensies, ensovoorts) of 2 e grondboontjiebotter.

Suiwel – twee per dag

  • 1 porsie = 1 k melk of 180 ml jogurt of 45 g kaas

Stysel – ses tot nege per dag

  • 1 porsie = 1 sny brood of ’n halwe koppie gekookte pap of 30-40 g ontbytgraan of ½ k gaar pasta, rys of koring

Vrugte – 2 tot 3 per dag

  • 1 porsie = vrug so groot soos ’n tennisbal of 125 ml sap

Groente – 2 tot 3 per dag

  • 1 porsie = 1 k rou blaargroente, ½ k rou of gaar ander groente

Vet – gebruik spaarsaam

  • ’n Kind benodig ongeveer 60-80 g vet per dag, wat die vet insluit wat natuurlik in voedsel voorkom. Kies maer vleissnitte, gebruik laevet-gaarmaakmetodes en voeg 3-5 porsies gesonde vet by.
  • 1 porsie = 1 t olie of sagte margarien of 1 e neute of sade of ¼ avocado

Peuselkos vir kleuters en peuters

Kinders moet gereeld eet. Maak seker dat hulle tussen maaltye peusel aan goed beplande happies pleks van tjips en lekkers.

Peuters hou van roosterbrood – gebruik bruinbrood, smeer dit met ’n dun lagie Marmite en sny dit in vingers of gebruik ’n koekiedrukker en druk verskillende vorms uit die roosterbrood.

Sit ’n saggekookte eier in sy dop daarmee voor, dan kan die kleuter sy broodjie in die sagte geel druk. Groter kinders sal selfs gebakte bone in tamatiesous daarby geniet.

Ryskoekies is gewoonlik ’n wenner; gee dit net so skoon of smeer dit met ’n bietjie Marmite, grondboontjiebotter of kaaswiggies.

Laat hulle knibbel aan droëwors en biltong (dit help veral wanneer hulle tande sny), repies droë mango of ander droëvrugte, vars stukkies appel, wortel en piesang.

Kosblikidees

  • Klein houertjies drinkjogurt en klein bakkies jogurt
  • Klein houertjies ongegeurde springmielies
  • Kaaswiggies met volkoringbeskuitjies
  • Repies wortel, komkommer en klein mielietjies
  • Klein vruggies soos appeltjies, piesangs en nartjies (reeds geskil)
  • Koue pastaslaai met tuna en groente deurgemeng
  • Hardgekookte eiers, reeds afgedop

Wenke

  • Wees versigtig om van die vorige aand se oorskietvleis (veral hoender) in die kospakkie te sit, veral as dit warm is, want jy weet nie of die kosblik dalk lank in die son gelê het voor daar by eet uitgekom is nie – dit kan tot voedselvergiftiging lei.
  • Kleuters hou daarvan om te knibbel aan vleis wat nog aan die been is. Hoenderboudjies of lamstjoppies is ideaal; maak egter net doodseker dat jy enige los stukkies been, byvoorbeeld die knobbel van die hoenderboudjies, verwyder, anders kan dit in hul keel beland.
  • Leer jou kinders om water te drink, pleks van koeldrank of vrugtesap (wat baie suiker bevat). Verdun vrugtesap met die helfte water. In die somer kan die water vooraf gevries word.