Mense wêreldwyd is verstom oor Dinsdag se Amerikaanse verkiesing waarin die Republikein Donald Trump teen die verwagting in gewen het, maar het jy geweet hy sal een van die langste Amerikaanse presidente in die geskiedenis wees?

Dit is maar een van die buitengewone feite en skandale van die Amerikaanse verkiesing.

Donald toring bo die res uit met ’n lengte van 1,81 m. Net Abraham Lincoln was langer as hy, naamlik 1,82 m.

Volgens Sky News was Ronald Reagan die eerste en laaste president wat geskei was voor hy ingehuldig is. Trump is egter al twee keer geskei en tans getroud met sy derde vrou, Melania.

Wat nog meer verstommend is, is die bedrae geld wat Hillary Clinton, sy Demokratiese teenstander, en Donald in hul veldtog ingestoot het.

Hillary het amper dubbel soveel bestee as Trump met ’n allemintige R17,5 biljoen. Trump het “net” R10,7 biljoen op sy veldtog uitgegee.

Hoewel Donald Trump met die jare in omstredenheid gehul is, kan ’n mens net terugkyk na die uitlatings van die verkiesingsjaar om ’n prentjie te kry.

Hier is van Amerika se nuwe president se meer onlangse skandale en uitlatings:

  1. As deel van sy veldtog het hy in Junie voorgestel om Moslems uit Amerika te verban.
  2. Hy het politieke ondersteuning van die verregse leier van die Ku Klux Klan, David Duke, aanvaar.
  3. Hy het twitter as ’n wapen ingespan en Hillary onder meer as “slinks” te beskryf.
  4. Hy het tydens sy veldtog gesê hy wil ’n muur op Amerika se grens bou om onwettige immigrante uit te hou.
  5. Hy het verlede jaar tydens een van sy veldtogte ’n gestremde joernalis gekoggel.

Bronne: CNN, Washington Post, Sky News, The New Yorker