’n Fidget-manie het Suid-Afrikaanse kinders getref.

In Afrikaans beteken Fidget, vroetel, en die speelding is juis so genoem omdat dit iets is wat verveelde kinders mee kan sit en vroetel.

Daar is selfs skole wat kinders aanmoedig om daarmee te speel in die klas.

’n Chemiese ingenieur, Catherine Hettinger, het dié spinners reeds in 1993 ontwerp, blykbaar vir mense met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD).

Die speelding kos enige prys van R50 tot R400 en kan aanlyn by takealot.com of OLX gekoop word. Dit is ook by party skole beskikbaar.

Fidgets kom in verskillende kleure en vorms en maak selfs liggies maar een ding is seker – dit is beslis die in-ding!

Maar een ouer is bitter spyt dat sy vir haar kind ’n Fidget aangeskaf het.

’n Kind (10) van Houston, Texas, het by die dood omgedraai nadat sy ’n gedeelte van ’n Fidget Spinner-toestel ingesluk het.

Dit het deesdae ’n speelding vir menige kind geword.

Maar vir die 10-jarige Britton Joniec was speeltyd verby toe sy Maandag ’n noodoperasie moes ondergaan om ’n deel van so ’n toestel te verwyder.

Britton se ma het die angswekkende ervaring op Facebook gedeel.

Volgens die ma het sy gehoor hoe haar kind agter in die motor ’n roggelgeluid maak.

Sy skryf: “Toe ek in die spieëltjie kyk, sien ek dat haar gesig bloedrooi was en kwyl uit haar mond loop. Sy kon geluide maak, maar het so paniekbevange gelyk dat ek onmiddellik die voertuig van die pad afgetrek het.”

Die ma vertel in haar Facebook-inskrywing Britton het na haar keel gewys en gesê sy het iets ingesluk.

“Ek het Heimlich se maneuver toegepas, maar daar was geen weerstand nie. Sy het een van die metaalgedeeltes in haar mond gesit om dit skoon te maak en dit per ongeluk ingesluk.

Ons het na ’n noodsorgsentrum gery, waar mediese personeel nie kon vasstel of die gedeelte in haar lugweg of slukderm vassit nie.”

Die kind is toe gehaas na die Texas-kinderhospitaal, waar sy geholpe is.

Die ma skryf verder: “Fidget spinners is die nuutste gier en hulle word wyd versprei. Kinders van alle ouderdomme kan hulle kry, maar nie alle spinners kom met ouderdomsgepaste waarskuwings nie.”

Die speelding het so gewild geraak dat baie skole dit nie meer toelaat nie.

Het jou kind ’n Fidget Spinner?