Tydens ’n “intense ondersoek en ondervraging deur speurders”, het S'bongile Mbambo erken sy het ’n affair gehad.

[caption id="attachment_163397" align="alignnone" width="600"]Foto: Emergency Control SA Foto: Emergency Control SA[/caption]

Volgens TimesLive het twee onafhanklike polisiebronne bevestig hierdie erkenning het tot die deurbraak in die saak gelei wat die polisie nodig gehad het om baba Siwaphiwe op te spoor.

Die maand oue baba was 48 uur lank vermis nadat gewapende rowers haar Vrydag na bewering by ’n winkelsentrum in Greyville, Durban, gekaap het.

Sy het aan die polisie gesê sy kon haar agtjarige seun betyds uit die Toyota Yaris kry, maar haar aanvallers het weggejaag met haar jongste op die agtersitplek vasgegespe.

’n Reusesoektog is vir die baba se ontvoerders van stapel gestuur en het tot ’n uitstorting van medelye vir die familie van oral in Suid-Afrika gelei.

Siwaphiwe is eindelik in die vroeë oggendure op Sondag gevind – en kort daarna is haar ma, S'bongile, in hegtenis geneem.

Volgens berigte was die kaping “nageboots” en is die klein slagoffer in ’n huis in New Hanover in Sentraal-KwaZulu-Natal versteek.

TimesLive berig dat toe S'bongile eers vir die polisie haar beweerde minnaar se naam gegee het, kon hulle hom – en Siwaphiwe – tot by die N3 naby die Mariannhill Toll Plaza naspoor.

Die man en sy meisie, wat ook in die motor was, is in hegtenis geneem.

‘n Polisiebron sê die vaderskap van die baba word ondersoek.

Volgens to East Coast Radio het Kgomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, sy teleurstelling uitgespreek oor mense wat hul mede-landsburgers se vertroue en geloof in menslikheid misbruik.

“Vals bewerings van misdaad moet veroordeel word,” het hy gesê.

Klein Siwaphiwe word nou deur die departement van maatskaplike ontwikkeling versorg.

S'bongile, haar beweerde minnaar en sy meisie sal na verwagting vandag in die hof verskyn.

Bronne: TimesLive, News24, East Coast Radio