Casey* (17) en Lee-Ann* (18) is al vier jaar boesemvriendinne. Die twee het op skool ontmoet en was byna onmiddellik onskeibaar; tot Casey die dag geld by Lee-Ann geleen het.

“Sy het nie verduidelik waarvoor sy die geld nodig gehad het nie, maar het beloof om dit die volgende week terug te betaal,” sê Lee-Anne.

Intussen het twee maande al verloop, en wag ’n ongemaklike Lee-Ann steeds op haar geld.

“Hoe gesels ek met haar daaroor?” vra sy.

Terwyl sommige mense sal sê ’n mens moet as ’n reël nooit geld vir vriende leen nie, sal ander weer sê dis jou plig as vriend en dat jy nooit weet wanneer jý die een is wat gaan bakhand staan nie.

Geld

Die sêding: “Geld is die wortel van alle kwaad,” is nie verniet alombekend nie, en baie mense laat toe dat geld, of ’n tekort daaraan, hul lewe oorheers. Dis belangrik om perspektief te behou, want al is geld belangrik, behoort jy dit nie soveel mag te gee dat dit iets belangrikers, soos ’n vriendskap, kan vernietig nie.

Hoe om te vra: Moenie geld leen tensy jy dit nie broodnodig het nie. Leen net geld vir noodsaaklikhede. En nee, Beyoncé se nuutste CD is nié noodsaaklik nie! Betaal dit stiptelik terug en sê vir jou vriend as jy sukkel met die terugbetaling.

Hoe om te gee: Die goue reël is om net soveel geld te leen as wat jy kan bekostig om te verloor, ingeval die lener nie die geld teruggee nie. Stel ’n duidelik datum vas waarop jy die geld terugverwag.

Klere

Jy ken die gevoel wat jy kry wanneer jy jou geliefkoosde Cotton On-baadjie aantrek? Die een wat jou laat voel na ’n superster wat die wêreld kan verower? Ons koop klere omdat dit uitdrukking gee aan ons persoonlikheid en ’n manier is om te wys ons is uniek. Terwyl party mense hul klere met die grootste liefde deel, is ander besonder heilig op hul s’n.

Hoe om te vra: Sorg dat jy die klere in dieselfde toestand teruggee as wat jy dit gekry het; met ander woorde sonder vlekke en gate! Was dit voor jy dit teruggee, maar sorg dat die wasmasjien nie die klere beskadig nie.

Hoe om te gee: As jy nie gemaklik daarmee is om klere te leen nie, sê so. As jy wel klere uitleen, moet jy beslis duidelike perke stel, soos dat die lener dit sal moet vervang as hy of sy dit vernietig of vlek.

Grimering

Party meisies kan nie eens die huis verlaat sonder maskara en lipglans nie. Kan jy jou indink hoe moeilik dit vir hulle moet wees om hul grimering uit te leen?

Hoe om te vra: Moet liewer nie grimering leen nie omdat dit onhigiënies is. In ’n noodgeval, soos wanner jy by die winkels is en daai outjie op wie jy smoorverlief is, aangeloop kom, is dit doodreg om ’n bietjie lipglans by jou vriendin te leen. Smeer ’n bietjie aan jou vinger, pleks van regstreeks aan jou lippe.

Hoe om te gee: Moet liefs nie grimering uitleen nie; jy kan siektes opdoen. As jou vriendin byvoorbeeld ’n koorsblaar het en jou lipglans leen, kan jy ook een kry.

Speletjies

Rekenaarspeletjies is duur; daarom is mense vanselfsprekend huiwerig om dit uit te leen.

Hoe om te vra: As jy eenvoudig nie kan wag tot jou ouers die nuutste Killzone-speletjie vir jou koop nie, kan jy een van jou speletjies met ’n vriend uitruil. So vind julle albei baat by die ooreenkoms.

Hoe om te gee: Deel net jou speletjies met mense wat jy vertrou en wat jy weet dit sal teruggee sonder skade.

-      Tskaane Ndlovu

Bronne: lifehack.org, lovelyish.com