Steve “Stevie” Stephens (37) van Cleveland, Ohio, het die 48 uur die lang arm van die gereg ontwyk nadat hy ’n video op sy Facebook-blad gedeel het van ’n koelbloedige moord.

Sy slagoffer was die bejaarde Robert Godwin (74) wat die hoogste prys moes betaal omdat Steve so besluit het. Robert was besig om na sy huis te stap nadat hy ’n Paas-maal met sy familie geniet het.

Maar Steve het hom bloot lukraak geteiken en besluit dis die man wie hy wil doodmaak. Hy het hom koelbloedig in sy gesig geskiet.

Net voor hy die sneller getrek het, het Steve vir Robert gesê dat dit Joy Lane skuld is dat dit met hom gebeur. Joy Lane was Steve se meisie van die afgelope drie jaar en sake tussen die twee het glo Vrydag só skeefgeloop dat hy net “beheer verloor het.”

  Bykans 48 uur nadat Steve daardie bloedstollende video geneem en op sy Facebook-blad gedeel het, is hy self dood. Luidens berigte het hy sy eie lewe geneem.
Hy is kort vantevore deur polisie in Erie, Pennsilvanië, gewaar. Dis sowat 160 km van Cleveland. Hulle het na bewering probeer om hom te stop, maar na ’n kort jaagtog het Steve glo selfdood gepleeg.
Daar is tot dusver nog geen bevestiging dat Steve wel 13 ander mense vermoor het nie. Hy het daarop aanspraak gemaak in een van die videos wat Sondag deur hom gedeel is.

Sy ma, Maggie Green, het aa Fox News gesê sy het verneem haar seun is dood. Hy het glo by haar ingeloer kort voordat hy vir Robert vermoor het en sou na bewering aan haar gesê het: “Momma, dis die laaste keer wat jy my gaan sien . . . ek wou jou net vir oulaas sien.”

Bronne: foxnews.com, independent.co.uk, cnn.com