Sikloon Haiyan wat die Filippyne Vrydag getref het, is die ergste storm wat die mensdom nog beleef het.

So sê dr. Peter Johnston, ’n klimatoloog aan die Universiteit van Kaapstad, by navraag. Die storm het bykans ’n hele provinsiale hoofstad in Sentraal-Filippyne platgevee, en daar word geraam dat minstens 10 000 mense in die ramp omgekom het.

Maar wat is die verskil tussen ’n sikloon, orkaan, tifoon en ’n tornado?

Peter verduidelik dat ’n tropiese sikloon die versamelnaam vir ’n orkaan en ’n tifoon is en dat dit verskillend genoem word in verskillende dele van die wêreld. ’n Tornado is egter iets heeltemal anders.

’n Sikloon ontwikkel meestal tussen 10 en 15 grade noord en suid van die ewenaar. Die water moet 27 °C wees en die lug warm en vogtig. Die water verdamp in die lug en wolke word gevorm. ’n Laedrukstelsel ontwikkel, die lug beweeg op in die stelsel en dit begin draai. Hoe meer momentum die stelsel kry, hoe meer water neem dit op en hoe groter word dit.

“Dit vorm amper ’n soort enjin wat die storm aandryf.”

Volgens Peter kom siklone redelik algemeen voor, maar almal ontwikkel nie tot volle krag nie. “Dis nie gevaarlik ter see nie, maar wanneer dit aan land gaan, kan dit grootskaalse verwoesting saai. Dit woed ná sowat 20 km tot 50 km op die land uit.”

’n Tifoon ontwikkel uit ’n sikloon en is van 2 tot 5 km in deursnee. “Dis aansienlik kleiner, maar kan nogtans bome, huise en selfs mense opsuig en baie skade aanrig.

-Marelize Potgieter