[caption id="attachment_42850" align="alignnone" width="768"]Emilia Clarke (Daenerys  in Game of Thrones) en Kerry Washington (Olivia Pope in The Fixer). Emilia Clarke (Daenerys in Game of Thrones) en Kerry Washington (Olivia Pope in The Fixer).[/caption]

WAT?! Wat?! Het The Fixer sowaar nie ’n Emmy-benoeming gekry nie? Ek beskou dit as ’n persoonlike aanval. Ek is mal oor die Emmy-toekennings en ek hou vreeslik daarvan om te sien of my gunsteling-reekse dit tot in die wedloop gemaak het.

In die dramakategorie is al die grotes daar: Homeland, Mad Men, Game of Thrones, Downton Abbey, Breaking Bad en House of Cards, ’n reeks wat ons nog nie hier gesien het nie maar waaroor oorsese resensente mal is.

Maar dis moeilik om te verstaan waarom The Walking Dead en The Fixer (Scandal soos dit in Amerika genoem word) nie ’n bietjie erkenning kry nie – wie was nie meegevoer deur die zombie-manewales in die een en die politieke intriges in die ander nie?

The Fixer se Kerry Washington (as Olivia Pope) kry darem ’n welverdiende benoeming in die kategorie vir beste aktrise en ek dink eerlikwaar vanjaar gaan haar jaar wees. Sy het wel kwaai mededinging van Claire Danes in Homeland, Michelle Dockery in Downton Abbey en Vera Farmiga, wat wonderlik grillerig was in Bates Motel. Ek kan nie kommentaar lewer oor Robin Wright se vertoning in House of Cards nie (sy sal altyd Kelly in Santa Barbara en Princess Buttercup in The Princess Bride wees), maar sy is briljant met enigiets wat sy doen (ek dink ek is ’n bietjie versot op haar) en ek is daarom seker sy verdien dié eer.

[caption id="attachment_42842" align="alignnone" width="551"]Robin Wright in House of Cards Robin Wright in House of Cards[/caption]

Wag, wag, wag! Ek het sommer aangeneem Julianna Margulies sou vir The Good Wife benoem word, maar sy’s nie daar nie. Ek leef moeilik daarmee saam want sy is die koningin van reekse! Ek dink ook Kerri Russell verdien ’n benoeming vir haar rol in The Americans. Ek het eerlik geglo dat sy ’n Russiese spioen in Amerika in die 1980’s was en het nie vir ’n oomblik aan haar gedink as Felicity (haar ander beroemde reeks) nie, want sy was so oortuigend.

Katey Sagal is wonderlik as die tawwe Gemma in Sons of Anarchy – dis so verkeerd dat sy nie benoem is nie – en Anna Torv verdien erkenning vir die wonderlike werk wat sy in Fringe gedoen het. Ek is ook bekommerd dat niemand blykbaar gehou het van Michelle Fairley nie – sy het die vertoning van haar lewe gegee as Caitlyn Stark in Game of Thrones. Het hierdie mense nie daardie skrikwekkende Red Wedding-episode gesien  nie?

Kom ons kyk vlugtig na die kategorie vir beste ondersteunende aktrise: Ek voer ’n Targaryense weergawe van ’n vrolike dansie uit dat Daenerys, ek bedoel die aktrise Emilia Clarke, benoem is want die moeder van drake verdien respek en heers oor die kleinskerm.

In die kategorie vir beste akteur probeer ek hard om nie ’n kabaal op te skop omdat Timothy Oliphant om die een of ander onverstaanbare rede nie uitgeroep gaan word vir sy rol as die koel Amerikaanse maarskalk Raylan Givens in Justified nie (goed, goed, ek weet ek’s verlief op hom, maar hy’s goed ook!). Ek dink ook Matthew Rhys behoort beloon te word vir sy uitmuntende werk in The Americans en Charlie Hunnam vir sy motorfietser-rol in Sons of Anarchy. En waar is die ouens van The Walking Dead?

[caption id="attachment_42846" align="alignnone" width="794"]Jim Parsons in The Big Bang Theory Jim Parsons in The Big Bang Theory[/caption]

Die handjievol uitverkorenes wat wel ’n kopknik gekry het is Hugh Bonneville in Downton Abbey, Bryan Cranston vir Breaking Bad, Jeff Daniels vir The Newsroom, Jon Hamm vir Mad Men, Damien Lewis vir Homeland en Kevin Spacey vir House of Cards.

Die komedie-benoemings het my nie so ontstel nie. Maar ek betreur wel die afwesigheid van New Girl en Happy Endings in die kategorie vir beste komedie. Dis ook tyd dat Kaley Cuoco erkenning kry vir haar rol as Penny in The Big Bang Theory, maar Jim Parsons word darem benoem vir sy rol as Sheldon en dit maak my gelukkig.

En ek is so bly dat Veep benoem is en dat die Veep-politici Julia Louis-Dreyfus in die kategorie vir beste aktrise in ’n komedie is en Anna Chlumsky in die kategorie vir ondersteunende aktrise, ek is gek oor hulle.

Reekse wat die kategorie vir beste komedie gehaal het is 30 Rock, The Big Bang Theory, Girls, Louie, Modern Family en Veep.

Vroue met ’n kans om die beste aktrise in ’n komedie te word is Laura Dern in Enlightened, Lena Dunham in Girls, Edie Falco in Nurse Jackie, Tina Fey in 30 Rock, Julia Louis-Dreyfus in Veep en Amy Poehler in Parks and Recreation.

En die kandidate vir  beste akteur in ’n komedie is Alec Baldwin in 30 Rock, Jason Bateman in Arrested Development, Louis CK in Louie, Don Cheadle in House of Lies, Matt LeBlanc in Episodes en Jim Parsons in The Big Bang Theory.

Jy kan hier na al die ander benoemings gaan kyk: http://www.hollywoodreporter.com/race/emmy-nominations-complete-list-587782

* Die Emmy-toekenningsaand is op 22 September.

- Natalie Cavernelis