Die Scott-glanspaartjie was gereeld in die nuus en het al talle terugslae beleef. Darren moes onlangs ook 'n operasie ondergaan om 'n melanoom van sy long te verwyder. Nou het Darren en sy vrou, Sarah-Kate, boonop aangekondig hul paadjies gaan skei.

Dit is ’n gesamentlike verklaring van my en Darren: Ons gesin het nog altyd aanvaar dat as jy kies om jou lewe in die openbare oog te lei, jy die applous saam met die goeie publisiteit moet aanvaar, die kritiek saam met die slegte publisiteit. Ons stem nie saam met daardie glansmense wat “privaatheid” soek wanneer ’n ongemaklike storie kop uitsteek nadat hulle die media in hul binnekringe aanvaar en uit goedvoelstories gebaat het nie. Ons het nog altyd oop kaarte gespeel met ons vriende, ondersteuners en aanhangers. En met dit in gedagte voel ons dis gepas om die hartseernuus te deel. Ons het ná 12 jaar saam, en amper ses jaar se getroude lewe – waarvan vyf gekenmerk is deur verskeie uitdagings vir ons huwelik en gesin – en ná heelwat sielsondersteun en bespreking, die gemeenskaplike besluit geneem om te skei.

"Ons het albei twee pragtige, wonderlike seuntjies in die wêreld gebring"

Die besluit is geneem met die belangrikste faktor in gedagte, en een waaroor ons een honderd persent saamstem – ons twee seuntjies. Hulle is al wat saak maak. Ons is deeglik bewus daarvan dat Mark en Matthew nou op ouderdomme is waar die teenwoordigheid van albei ouers uiters belangrik is, en met dit in gedagte, sal ons deel van mekaar se lewe bly terwyl ons hulle saam grootmaak. Ons het albei twee pragtige, wonderlike seuntjies in die wêreld gebring en dit is al waarop ons fokus.

Ons bly respekvol teenoor mekaar en vra dat almal dieselfde sal doen wat ons gesin betref. Probeer asseblief verstaan dat dit ’n uiters moeilike tyd vir ons gesin is, om verskeie redes, en ons vra dat julle die feit respekteer dat ons net ons kinders wil beskerm en vir hulle die normale, gelukkige grootwordjare wil gee wat hulle verdien, en wat aan ons gegun is.

Ons het saam hieroor besluit en sal as volwassenes op ’n volwasse wyse vorentoe beweeg en is albei toegewy daaraan om in die beste belange van ons kinders op te tree.

Van Darren en Sarah-Kate