Isabelle Dinoire (49) van Valenciennes, Frankryk het wêreldwyd opspraak verwek nadat sy in Mei 2005 tuis deur haar Labrador-kruis aangeval en haar gesig gruwelik vermink is. Laatmiddag op Donderdag 6 September 2016 breek die nuus: die Franse vrou wat die eerste gesigoorplanting ontvang het, het gesterf. Na wat berig word, was sy vir ’n geruime tyd reeds siek. Die voorlopige aanduiding is dat sy in alle waarskynlikheid as gevolg van kanker gesterf het.

Maar wie was Isabelle Dinoire en wat het tot haar gesigoorplanting gelei?

Daar is destyds gegis oor die werklike rede waarom die hond, genaamd Tania, haar aangeval het. Haar dogter het vas bly glo dat Tania paniekbevange geraak het toe sy nie vir Isabelle wakker kon maak nie.

Isabelle was bewusteloos nadat sy ’n oordosis slaappille gedrink het. Sy het ook daaroor, asook haar selfoodgedagtes, in haar memoires geskryf. Maar die hospitaal het gesê sy het ’n slaappil na ’n gesinsrusie gedrink en is in die nag deur haar hond aangeval. Isabelle se neus, lippe, ken en wange is in die voorval vermink. Sy het aanvanklik ’n masker gedra om die onderste gedeelte van haar gesig te verberg. Op 27 November 2005 word sy die heel eerste lewende wese waarop ’n gedeeltelike gesigsoorplanting uitgevoer word. Skenker-gesigsweefsel, ook die neus en mond is van ’n vroulike skenker wat breindood verklaar is, geneem en op haar oorgeplant.

Vreemde toeval of nie? Die skenker was ’n vrou wat selfdood gepleeg het deur haarself op te hang.

’n Jaar later kon Isabelle weer glimlag.

Tydens een van haar raar onderhoude met BBC het sy in 2012 vertel van haar stryd met mense wat haar aanstaar, maar ook haar geweldige behoefte om die familie van haar "gesigskenker" te ontmoet. Tydens die onderhoud bevestig sy weer eens dat sy destyds selfdoodgedagtes gekoester het en dat sy daardie noodlottige dag ’n einde aan haar lewe wou maak.

Sy het ook vertel hoe moeilik dit was om in die spieël te kyk want "ek sien ’n mengsel van ons altwee. Die skenker is altyd met my."

Haar herinneringe aan daardie skrikwekkende oomblik toe sy in ’n plas bloed, haar eie bloed, wakker geword het, is skokkend.

Sy kon haar nie indink dat dit haar gesig en haar bloed was nie. Meer nog, dat haar hond haar gesig gekou het.

Die skade was so erg dat gesigsrekonstruksie nie eers naastenby ’n oorweging was nie.

Haar pad van herstel was ’n geweldige uitdaging. Fisies was die oorplanting ’n sukses, maar sy het gesê dat sy soms soos ’n sirkusdier gevoel het. Kinders het vir haar gelag, mense het gestaar. Dit was pynlik.

Franse wetgewing het verhoed dat sy die naam van die skenker te wete kon kom. Sy't probeer om die inligting via die internet te bekom. Of sy ooit uitgevind het, bly ’n ope vraag.

Maar tog het die onbekende vrou ook Isabelle se inspirasie geword.

"As ek af of depressief voel, kyk ek vir myself in die spieël en dan dink ek aan haar. En ek sê vir myself ek mag nie toelaat dat ek opgee nie. Sy het my hoop gegee."

Bronne: giftadenenews, bbc.com, dead-people.com