Die arme Reve het ’n ongewone swelsel in haar baarmoeder gehad wat abdominale druk veroorsaak het, en die veearts, dr. Kurt de Cramer, het geweet dis vreemd.

Toe hy opereer, het Kurt, wat jaarliks sowat 900 keisersneë op honde uitvoer, iets soos nooit tevore gesien nie – twee fetusse wat met een naelstring aan dieselfde plasenta geheg is!

“Toe ek besef die hondjies is dieselfde geslag en het dieselfde merke, het ek dadelik vermoed hulle is dalk ’n identiese tweeling van ’n embrio wat verdeel het,” het hy aan BBC gesê.

En DNS-toetse toe die hondjies ses weke oud was, het dit bevestig. Die reuntjies – wat Cullen en Romulus gedoop is – is ’n identiese tweeling!

[caption id="attachment_135991" align="aligncenter" width="600"]Die trotse ma by haar unieke tweeling. Foto verskaf. Die trotse ma by haar unieke tweeling. Foto verskaf.[/caption]

Die tweetjies is glo die eerste geneties identiese tweeling wat nog in die hondespesie bevestig is!

Reve se eienaar, Dawn Barnard, het te midde van die opwinding by die dierehospitaal geen benul gehad van wat aangaan nie.

“Ek was geskok, want almal het rondgehardloop en die dokter het vir my gesê: ‘Moenie paniekbevange raak nie, hulle is oukei,’ ” het sy aan Huisgenoot vertel.

“Ek onthou hulle het kameras gevat en foto’s van die hondjies geneem en dit is toe dat ek hoor hulle is ’n tweeling. Dit was nogal cool, maar ek het nie toe geweet dis die eerste keer ter wêreld nie!”

Wanneer hondjies ’n plasenta deel, is hul kans op oorlewing swak weens komplikasies, maar Reve se sewe kleintjies is ná ’n twee uur lange operasie veilig gebore.

In ’n studie wat daarna in die joernaal Reproduction in Domestic Animals gepubliseer is, het die outeurs, Carolynne Joone van die James Cook-universiteit in Australië en Johan Nöthling van die Universiteit van Pretoria, geskryf: “Dit is die eerste bekende geval van monosigotiese tweeling in die hondespesie, en dit is met DNS-toetse bevestig.”

[caption id="attachment_135992" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

“Die tweeling lyk baie eenders,” sê Carolynne.

“Hondjies van dieselfde werpsel lyk gewoonlik dieselfde, en daar was klein verskille in die wit merke op hul pote, bors en stert se punt. Ek was eers nie seker of hulle ’n monosigotiese tweeling was nie.”

Dawn kon Cullen en Romulus ongelukkig nie hou nie.

“Ek het reeds agt en dit sou ’n aaklige idee wees om twee reuntjies uit die werpsel te hou. Ek het hulle aan vriende verkoop – een woon in Johannesburg en die ander in Natal. Ek hoop om hulle weer op 10 maande bymekaar te kry vir ’n fotosessie omdat hulle sulke oulike klein hondjies was.”

Ekstra bronne: Facebook, BBC.com