Die emosies loop hoog in Gauteng oor die omstrede e-tolstelsel. Klagskrifte word onderteken, witwarm debatte op sosiale media gevoer en snelweë versper met protesoptogte.

Dan moet sy nou seker ook haar deel tot die volksdebat bydra, het die sangeres Rea le Roux gedink.

Maar dié soort optog is nou nie juis haar styl nie; sy sal maar liewer ’n liedjie skryf.

“En dis hoe die parodie, etollie, gebore is,” vertel Rea en lag oor haar jongste draaksteek-video wat pas uitgereik is.

In die video is dit ’n gesin wat uit ’n . . . kom ons sê maar ’n “minder gegoede buurt” kom en erg omgekrap is oor die tolstelsel. ’n Tipiese “zef-gesin”, beskryf sy hulle.

[post-slider]

Die pa is ontsteld want al sy “drankgeld gaan alles vir vir e-tol; dit is ’n klomp bollie; se m . . . oses!”

Rea dryf ook die spot met onlangse voorvalle toe die stelsel rekeninge stuur aan kinders, oorledenes en bestuurders wat nog nooit eens ’n wiel op ’n Gautengse pad gesit het nie.

“Die een meisie is nou ses. Sy kry toe nou die dag ’n SMS; die e-toll sê sy skuld die geld, en moet by die kantoor gaan aanmeld.”

Vir dié parodie is die wysie van die Beatles se Yellow Submarine gebruik. “Want met etollie gaan almal net onder en onder!” skerts Rea.

Op ’n ernstige noot, was dit vir haar ’n groot voorreg om saam met haar pa, die akteur en drama-dosent Abri le Roux, in die video op te tree. Intussen maak Tiaan van Tromp, ’n student van Rea se sangskool, in dié video sy debuut voor die kameras.

En sal die etollie-liedjie moontlik binnekort die amptelike lied van betogende padgebruikers word?

“Hmm . . .  nog nooit so daaraan gedink nie,” sê Rea. “Maar ’n mens kan seker lekker toi-toi op die ritme van Yellow Submarine, dink jy nie?”

Jaco Hough-Coetzee

Kyk hier na Rea Roux na Rea Roux se e-tollie video: