Sedert sy Mini Cooper S daardie verskriklike dag vroeg in Maart in Soweto buite beheer getol het, is sy naam op almal se lippe. Maar Jub Jub se ongeluk het ’n nadraai wat verder reik as ’n gemeenskap se woede oor vier onnodig verkwiste lewens – dit werp nogmaals die kollig genadeloos fel op die roekelose dwelmmisbruik van sekere glansmense.

Die ongelukstoneel was skaars opgeruim toe die nuus al versprei het: Jub Jub en sy medebeskuldigde op onder meer vier moordaanklagte, Themba Tshabalala, is albei positief getoets vir kokaïen en morfien.

Skielik het glansmense met hul uitspattige lewenstyl en dwelmmisbruik weer almal aan die praat. Dit blyk gewild onder die rykes en beroemdes te wees om ’n kragtige opiaat soos morfien – maar veel algemener heroïen – saam met die duur partytjiedwelm kokaïen te gebruik.

‘‘Dis die stryd tussen die twee dwelms in gebruikers se gestel wat hulle so bedwelmd maak,’’ sê ’n joernalis wat in vermaakkringe beweeg. ‘‘Die kokaïen is soos ’n orgasme, en wanneer dit met iets soos morfien gekombineer word, is dit soos om veelvuldige orgasmes te hê. Die gebruikers voel wakker en lewendig, maar terselfdertyd ontspanne en sensueel.’’

Die kombinasie is maar die oortjies van die seekoei wanneer dit by dwelmmengsels kom. Sr. supt. Devon Naicker, hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se dwelmafdeling van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê gebruikers kombineer ál meer verskillende dwelms in hul soektog na nuwe hoogtes.

‘‘Dit werk soos alkohol – hoe meer jy inneem, hoe meer kan jy inneem. ’n Dwelmgebruiker soek altyd groter skop en daarom kombineer hulle verskillende middels,’’ verduidelik hy.

Dwelmrehabilitasiesentrums behandel toenemend mense wat meer as een middel gebruik, en baie is aan ’n kombinasie van dwelms verslaaf.

‘‘Die vernaamste mengsel is kokaïen, ’n stimulant, en heroïen, ’n depressant. Dit word ’n speedball genoem,’’ sê Alex Hamlyn, direkteur van Houghton House-rehabilitasiesentrum in Johannesburg.

Die speedball het die eerste keer berug geword toe die 23-jarige Hollywood-ster River Phoenix in 1993 buite ’n klub in Los Angeles ná ’n oordosis van dié mengsel dood is. En nou is dit blykbaar ook die voorkeur-mengsel vir mense op soek na nuwe, groter en beter skop – en dis dodelik verslawend.

Lees die volledige artikel in die 1 April-uitgawe van Huisgenoot.