[caption id="attachment_62995" align="aligncenter" width="333"]Foto: Dave Pape Foto: Dave Pape[/caption]

Teen R 387 750 is die wêreld se duurste Kerspoeding dalk heeltemal te ryk na sommige mense se smaak.

Die pasteisjef Martin Chiffers sal ’n skaars en duur 200 jaar oue konjak gebruik in wat bekendstaan as die waardevolste kerspoeding.

Die Duret 1810-konjak kos R 179 685. Dis nie net baie oud nie; dit smaak ook anders as gewone konjak. Dis in 1874 gemaak, voor filloksera alle tradisionele konjakwingerdstokke verwoes het. ’n Ander tipe wingerdstok is daarna gebruik, wat die smaak van konjak verander het.

In dié vrugtige soetgebak kom ook nie net ’n gewone pennie vir goeie geluk nie, maar ’n waardevolle goue Henry VI Salut d’Or-munt.

Skaars en duur organiese bestanddele daarin sluit in Ajwa-dadels en Mamra-amandels van Iran, 1655 Last Consignment Black Tot-rum, Perez Barquero Solear 1905-sjerrie en 1834 Whitaker-marsala.

Die Kerspoeding sal deur die luukse leefstylmaatskappy VeryFirstTo verkoop word.

Petro-Anne Vlok

Bronne: dailymail.co.uk, aol.co.uk