Die syfers

0

Dis die getal pruike wat hy in die opvolgfliek dra! Hierdie keer is daardie lokke die 30-jarige Australiese akteur se eie. Hy het in die eerste fliek, Thor, en ook in The Avengers ’n pruik gedra, maar sê dit was baie ongemaklik. “Met Snow White and the Huntsman het ek my hare laat groei vir die volgende Thor-fliek en toe kleur ons dit net donker.”

2

Soveel uur het Chris elke dag geoefen om spiere vir Thor te bou. Hy sê hy het nooit met gewigte geoefen voor hy die rol gekry het nie!

15

Die getal kostums wat Chris in die waagtoertjies en aksietonele gedra het. Thor is duidelik ’n man van aksie.

30

Die getal hamers wat vir die nuwe fliek gemaak is. Maar net vyf van hulle is baie gebruik. Een van hulle is ’n hamer wat lig uitstraal wanneer die weerlig slaan. Thor se mistieke oorlogshamer, Mjolnir, word glo teen dubbel die spoed van lig geswaai en bevat energie wat sterk genoeg is om ’n hele melkweg uit te wis. Mjolnir kan nie opgelig of gebruik word deur iemand wat dit nie waardig is nie. Ander wat dit al kon lig, sluit in die Red Norvell, Beta Ray Bill en Captain America.

98 kg

Soveel het Chris geweeg toe hy die fliek gemaak het. Hy moes daarna 15 kg afskud vir sy rol as ’n renmotorjaer in die fliek Rush.

140

Die getal wapens wat die rekwisisiehoof Barry Gibbs en sy span tegnici ontwerp en binne 10 weke vervaardig het.

5 000

Dis min of meer hoeveel jaar se haat en wraakgevoelens die Dark Elves in die fliek tot ’n einde wil bring.

300 biljoen

Die bekende astrofisikus Neil deGrasse Tyson reken die mitiese Mjolnir, die hamer wat Thor in die eerste fliek geswaai het, sou in werklikheid  soveel soos 300 biljoen olifante moes weeg!

R4,5 biljoen

Dis hoeveel die eerste Thor-fliek wêreldwyd laat inrol het. Dis die Marvel-fliek wat die sewende meeste geld gemaak het, en die fliek wat in 2011 die 15de meeste gemaak het.

BRONNE: COMICBOOKMOVIE.COM, IMDB.COM, SCREENRANT.COM, NJ.COM, EN.MEDIAMASS.NET, EN.WIKIPEDIA.ORG, EXPRESS.CO.UK, SHOWBIZSPY.COM; DISNEY