Grootoog staar die klein kannetjie die reuse dier aan wat bo hom uittroon. Die Tyrannosaurus rex (T.rex) se geel oë kyk nuuskierig grond toe, waar sy jong bewonderaar skaars hoër as sy enkel staan. Skielik brul die dinosourus triomfantelik en lig hy sy kort voorpote met skerp kloue, net soos in ’n toneel uit ’n fliek.

Huisgenoot en ons susterstydskrifte, YOU en Drum, bring binnekort Days of the Dinosaur – die uitstalling, met meer as 45 lewensgrootte, gemeganiseerde dinosourusse na Johannesburg en Kaapstad.

Nou kan jy soos ’n dwerg voel wanneer jy in die skaduwee van die reusagtige trikeratops staan en hoor hoe hard die T.rex kan brul. Die organiseerders het ’n volle 3 600 m2 in ’n prehistoriese paradys omskep en die oomblik dat jy by die uitstalling instap, word jy na 65 miljoen jaar gelede teruggevoer.

Alles wat jy moet weet 

  • Wat? Suid-Afrika se heel eerste tentoonstelling met dinosourusse wat kan beweeg en selfs brul.
  • Waar? Sandton Convention Centre in Johannesburg en Kiks in Kaapstad.
  • Wanneer? 20 Junie tot 20 Julie in Johannesburg en 2 tot 21 Augustus in Kaapstad.
  • Hoeveel kos dit? R140 vir volwassenes en R95 vir kinders.
  • Skoolgroepe en gesinne kry afslag. Skoolgroepe van meer as 20 betaal net R85 per kop en hul onderwyser se toegang is gratis. Gesinne van vier betaal net R395 vir die hele gesin. Skoolgroepe kry ook ’n eie toergids.

Bewegende dinosourusse – baie opwindender as ’n museumfossiel

Pleks van deur handboeke blaai of stokstywe ou skelette in museums bekyk, kan jy die dinosourus leer ken soos hy miljoene jare gelede was: springlewendig!

Die uitstalling spog met 12 tonele waarin meer as 45 dinosourusse in hul natuurlike omgewings uitgebeeld word. Hierdie diere kan op mekaar se bewegings reageer, hul stert swaai, kake beweeg, rondkyk en hul kloue uitstrek en gille laat hoor. Jy kan ook binne-in ’n T.rex-geraamte klim en kyk hoe ’n dinosourus van binne lyk.

Die grootste dinosourus is 13 m lank; dit is natuurlik die bekende T.rex. Daar is ook ’n 10 m lange lambeosourus en ’n ampelosourus van 10, 5 m lank.

In syfers

Die rondreisende uitstalling is in Argentinië ontwikkel en reis uit Spanje na Suid-Afrika. Die ontwikkelaars het geglo die bestaande uitstallings oor dinosourusse konsentreer te veel op dino’s as vermaaklik, en wou mense beter oor hierdie interessante diere inlig; daarom het hulle nou met paleontoloë en geoloë saamgewerk om ’n opvoedkundige maar vermaaklike uitstalling te skep.

Days of the Dinosaur – die uitstalling

  • Word in 11 skeepskratte vervoer. Dit is soveel kratte as wat vir die vervoer van 22 motors nodig is.
  • Onderneem ’n seereis van 35 dae uit Spanje tot in Suid-Afrika.
  • Beslaan 3 600 m2, meer as die helfte van ’n rugbyveld se grootte.
  • Bestaan uit meer as 45 dinosourusse.
  • Was al in meer as 10 lande.
  • Is vir 30 dae in Johannesburg en vir 19 dae in Kaapstad te sien.
  • Dit neem ses dae om die uitstalling te monteer.
  • Twee mense is gelyktydig 12 uur per dag aan diens om te sorg dat die dinosourusse behoorlik werk.

’n 3D-dinosourus-ervaring.

In die uitstalling se 3D-filmteater word jy op ’n reis na die begindae van die aarde geneem. Hier leer jy oor die verskillende tydperke waarin dinosourusse geleef het: die Triasiese, Jurassiese en Kryttydperk.

Meer te doen as net dinosourusse kyk

Afgesien van die indrukwekkende dinosourusse, is daar ook ’n opgrawingsgebied waar kinders kan sien hoe argeoloë fossiele soek en ’n inkleurarea waar kinders dino-prente kan inkleur om huis toe te neem.

Daar is ook ’n sandput waar kinders hul innerlike argeoloog kan ontdek deur replikas van bene op te grawe en ’n dino-winkel waar jy aandenkings kan koop. Jy kan ook teen betaling op ’n dinosourus ry, ’n foto van jou saam met die trikeratops of die T.rex laat neem of jou gesig laat verf.

Nie net vir speel nie

Al is Days of the Dinosaur – die uitstalling ’n vermaaklike ervaring, bly dit opvoedkundig en streef dit daarna om kinders meer oor hierdie prehistoriese aardbewoners te leer.

Die kunstenaars wat die indrukwekkende diere gebou het, het nou met paleontoloë saamgewerk om te sorg dat die dinosourusse lewensgetrou voorgestel word.

Die kleure en bewegings van die diere en die omgewings waarin hulle uitgebeeld word, is alles wetenskaplik akkuraat en kenners begelei jou deur die tentoonstelling.

Pretfeit

Suid-Afrika hoef vir geen land terug te staan wat ontdekkings deur paleontoloë betref nie. Ons spog met die wêreld se oudste dinosouruseiers en van die oudste dino-fossiele ter wêreld.

Vir nog inligting, besoek daysofthedinosaur.co.za of kliek hier om die video te kyk.

Kaartjies is by Computicket te koop.

- Mieke Vlok