Chrissie Marie se windklokkies is gesteel van die voorstoep van haar huis in die Amerikaanse deelstaat Washington. Sy sou dit dalk eers veel later besef het, as dit nie vir die geld en aandoenlike briefie was wat die dief agtergelaat het nie.

“Ek is jammer ons het jou windklokkies gesteel. Ons ma is dood en het van skoenlappers gehou. Toe vat my suster dit om voor ons venster te hang,” skryf die dief.

“Ek is jammer. Dit is al geld wat ek het. Moet asseblief nie vir ons kwaad wees nie. Jake.”

Nou is die ma van vier naarstig op soek na die seun. Sy het die briefie op 3 Maart op Facebook gelaai in die hoop om Jake op te spoor.

Sy wil hom nie straf nie, verduidelik sy, maar hom ’n geskenk gee.

“Wel, Jake, ek is nie seker wie jy is nie, maar jy kan jou geld kom terugkry, hartjie.

“Ek het drie van daardie windklokkies gehad. Jy kan jou geld kom terugvat en ook een kry sodat julle elkeen jul eie een kan hê. Ek is nie kwaad nie; kom dus asseblief terug na my huis toe,” skryf sy in die inskrywing.

Dis honderde kere gedeel en mense het kommentaar gelewer hulle wens hulle kan help om Jake op te spoor.

Bronne: TheMirror. Thatslife.