Toe die Britse mediese vaktydskrif The Lancet in 1998 ’n berugte artikel deur die voormalige dokter en navorser Andrew Wakefield (intussen van die mediese rol geskrap) publiseer, het ’n herrie losgebars wat telkens opnuut opvlam, veral op sosiale netwerke. Is dit waar dat die MMR-inenting, wat teen masels, rubella en pampoentjies beskerm, outisme kan veroorsaak? Talle ma’s wonder, en veral dié wat outisme in die familie het, is bang dié bewerings hou dalk steek.

In Brittanje het talle ma’s ophou om die inenting te laat doen, veral nadat Jim Carrey se vrou, Jenny McCarthy, beweer het die inenting het haar seun outisme gegee, al het The Lancet die artikel al in 2010 onttrek. Daarby het 10 van die 12 outeurs hulle van die artikel gedistansieer, en The Lancet self het in 2000 ’n artikel publiseer wat die leemtes in Wakefield se navorsing uitgewys het.

Vroeër vanjaar het Amerika se Raad vir Internasionale Betrekkinge ’n wêreldkaart uitgereik wat wys waar daar oral maselsepidemies ontstaan het. Op hierdie kaart kan ’n mens byvoorbeeld sien dat daar in Suid-Afrika in 2009 en 2010 groot epidemies was, sowat 12 jaar ná Wakefield sy artikel gepubliseer het. In die res van Afrika, wat alles as Derdewêreldse of ontwikkelende lande geklassifiseer word, is daar ontsettend baie masels.

Volgens ’n artikel wat kort ná die uitreiking van dié kaart in die LA Times gepubliseer is, is dit te verwagte omdat die inenting nie so vrylik beskikbaar is in hierdie lande nie. Maar dis skokkend hoe baie maselsepidemies in Europa en veral Brittanje uitgebreek het. Vir lande soos Brittanje, wat onder die rykste en gevorderdste lande ter wêreld tel, is so ’n epidemie heeltemal onnodig.

Maar hoekom is dit so belangrik dat jou kind ingeënt word?

Volgens sr. Desiree du Plessis, ’n verpleegster by een van Netcare se Stork’s Nest-klinieke, is dit belangrik dat ma’s hul babas inent sodat “groepsbeskerming” kan intree. “As sowat 80 persent van die bevolking se kinders ingeënt word, sal groepsbeskerming die kans dat kinders wat nie ingeënt is nie die siekte opdoen, baie minder maak,” verduidelik sy. Maar as daar te min kinders is wat ingeënt word, kan dit katastrofale gevolge inhou. In 1592 is sowat twee derdes van Kuba se bevolking uitgewis weens ’n maselsepidemie.

Masels is ’n baie gevaarlike siekte, selfs al sal jy nie noodwendig daaraan beswyk nie. “Dit byvoorbeeld oorinfeksies, longontsteking, diarree en blindheid by kinders veroorsaak. Vir swanger ma’s is dit veral gevaarlik omdat dit dan die ongebore baba benadeel,” sê sr. Du Plessis.

En wat as jy werklik bang is vir outisme?

Sy sê sy kom nie dikwels ma’s teë wat nie hul kinders wil inent nie omdat sy meestal met kinders werk wat deur pediaters verwys word, maar as die ma vir haar sê sy is bekommerd, beveel sy aan dat sy die inenting nie op 15 maande doen nie, maar liewer op twee jaar. As die kind outisties is, sal die simptome waarskynlik dan al begin wys.

“Ek kan ook met sekerheid vir ma’s sê dat daar geen mediese bewyse is vir ’n verband tussen outisme en die MMR-inenting nie,” voeg sy by.

Wanneer moet jou kind ingeënt word?

Volgens die inentingsrooster van Stork’s Nest, ’n Netcare-gesondheidskliniek vir ma’s en babas, word die eerste inenting vir masels op nege maande gedoen en die tweede op 15 maande. Die inenting wat op nege maande gedoen word, is net teen masels terwyl dié op 15 maande die MMR-inenting is teen masels, pampoentjies en rubella is.

Algemene simptome van masels

-          Loopneus

-          Droë hoes

-          Rooi en geswelde oë

-          Waterige oë

-          Gevoeligheid vir lig

-          Koors

-          Koplik se knoppies – klein, gryswit knoppies met wit in die middel

-          Lyfpyn

-          Veluitslag. Drie tot vier dae ná die eerste simptome kan ’n rooibruin uitslag van knoppies op die vel wys, wat tot ’n week hou. Dit begin gewoonlik agter die ore.

Wat is groepsbeskerming?

As baie mense teen ’n aansteeklike siekte ingeënt word, is die kans baie kleiner dat ’n individu wat nie ingeënt is nie, in aanraking met die siekte sal kom. Dus, selfs al bestaan daar ’n mate van hierdie soort immuniteit in Suid-Afrika, kan jou kind nogtans masels kry as sy of hy nie ingeënt is nie; die kans is net kleiner.

- Dalena Theron

Ekstra bronne: www.medicalnewstoday.com; www.latimes.com; www.theguardian.com