“Ons sal hulle nooit vergeet nie, ook nie die laaste keer dat ons hulle gesien het nie.”

So het oudpres. Ronald Reagan op 28 Januarie 1986 Amerika toegespreek nadat die Challenger in ’n vlammehel uitgebars het.

Lees ook: 10 feite oor die Orion-ruimtetuig

Die voorval het skokgolwe die wêreld ingestuur omdat soveel lande die lansering regstreeks op televisie gevolg het, ook Suid-Afrika.

Hoewel geen van die sewe bemanningslede vergeet sal word nie, het Christa McAuliffe die meeste harte aangegryp. Sy was ’n inspirerende onderwyseres wat haar beroep met passie uitgeleef het. Tot op daardie noodlottige dag. Die pendeltuig was skaars 73 sekondes in die lug toe dit bo die Atlantiese Oseaan gedisintegreer. Dit was glo te wyte aan ’n onklaar O-ring-wasser aan die regterkantste vuurpylaanjaer.

Kitsfeite oor Nasa se pendeltuie

Vinniger as vinnig

Wanneer in ’n wentelbaan, snel die pendeltuig voort teen nagenoeg 28 000 km/h. Dit beteken die bemanning ervaar elke driekwartier ’n sonsopkoms of -ondergang.

Praat van vlugvoos

Wanneer die afstande wat deur al vyf die pendeltuie afgelê is, bymekaargetel word, beloop dit 826,7 miljoen km.

Lees ook: Welkom in die feestelike veertigs

Wat van Amerika se presidente??

Net Bill Clinton en vroulief Hillary het al ’n pendeltuig se vertrek aanskou. Barack Obama sou daar gewees het met Endeavour se lansering, maar dit is uitgestel en hy’t na alle waarskynlikheid reeds ander planne gemaak.

Bly uit hierdie kombuis!

Die termiese teëls wat help om temperature te reguleer wanneer die pendeltuie in ’n wentelbaan is, kan hitte tot ’n massiewe 2 200 °F, oftewel tot sowat 1 204 °C hanteer. Die verrassendste aspek is dat dié teëls binne ’n minuut nadat hierdie temperatuur bereik is, weer voldoende kan afkoel dat jy dit in jou hande kan hou.

Twitter breek deur die klankgrens

Maichael J Massimino (@Astro_Mike) het op 11 Mei 2009 die eerste men geword wat uit die ruimte getwiet het. Sy woorde: “Vanaf die wentelbaan: Lansering was fenomenaal! Ek voel wonderlik, werk hard en geniet die manjifieke uitsig; die avontuur van ’n leeftyd het begin!”

Toe sing ons almal saam!

Kommandeur Chris Hadfield was die eerste persoon in die ruimte wat sy kitaar nader getrek en David Bowie se “Space Oddity” vir sy derduisende aanhangers op aarde uitgevoer het.

Bronne: geek.com, space.com

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer