DIE spanning in die aardkors het bly opbou tot die seebodem naby Japan kort voor drie daardie Vrydagmiddag ’n reusagtige boksprong gemaak het.

Die gevolge was so katastrofies dat die eilandstaat stellig nou sy grootste krisis sedert die Tweede Wêreldoorlog beleef.

Op 11 Maart om14:46 Japannese tyd het daardie skielike stubeweging diep onder die Stille Oseaan ’n massiewe aardbewing ontketen: 9 op die Richterskaal, met sy episentrum 130 km van die Japannese kus en 370 km van Tokio af.

Die kragte was duiselingwekkend: 8 000 keer kragtiger as die onlangse aardbewing wat Christchurch in Nieu-Seeland verniel het en met genoeg energie om Amerika ’n maand lank van krag te voorsien. Dit was die kragtigste aardbewing wat nog in Japan aangeteken is. Dit het die ooste van die land sowat vier meter nader aan Noord-Amerika geskuif het en die aarde 25 cm op sy as laat skuif.

Dit was die dramatiese begin van ’n reeks rampspoedige gebeure wat ’n dapper, vindingryke nasie tot op sy knieë dwing en die wêreld opnuut laat besef hoe weerloos ons teen die natuur is.

Ons het ’n bedrywige paar dae agter die rug, met blitsige reëlings vir ekstra bladsye vir ons spesiale fotobylae, en ’n span wat tot laataand deur honderde foto’s gesif en stapels nuusverslae deurgewerk het om die treffendste woorde en beelde by julle te besorg. Moenie die Huisgenoot van 24 Maart 2011 mis nie - ons het 'n 16-blad bylae oor hierdie ramp.