Brad Pitt en Angelina Jolie is na bewering Saterdag getroud by die Château Miraval, ’n wynplaas wat hulle besit in Le Val, in die suidooste van Frankryk.

Brad en Angie het die eiendom in 2008 gehuur, net voor die geboorte van hul tweeling, Vivienne en Knox (6), en het dit sedertdien gekoop. Volgens Time het die paartjie “sedertdien hul vakansies eksklusief op die eiendom van 404 ha deurgebring.”

Selfs met die groot kroos het die paartjie gewis genoeg ruimte by Miraval – die ongelooflike huis het 35 slaapkamers. Die uitgestrekte tuine beskik oor ’n grag, fonteine, antieke akwadukte, ’n dam, kapel en natuurlik ’n wingerd, waar die druiwe groei vir hul eie wyn, Côtes de Provence Rosé Miraval.

Die eiendom het ’n ryk geskiedenis. Volgens sy webtuiste het dit eers aan die Franse hof behoort en is in die 14de eeu in die register van adelhuise [Registry of Noble Houses] opgeteken.

In 1970 het die komponis Jacques Loussier dit gekoop en in ’n opname-ateljee omskep, waar kunstenaars soos Sting, The Cranberries en Pink Floyd liedjies opgeneem het.

Volgens die webtuiste het Brad en Angie aan die gees van Miraval probeer getrou bly, en “het dryfkrag aan die hart van die eiendom gegee as ’n plek gewy aan die kunste – musiek, teater, teater, plaaslike kos en goeie wyn”.

Bronne: dailymail.co.uk, time.com, miraval-provence.com