ALLES is op hul plek vir die skouspel van die jaar: maagdelike blomme, kraakwit servette, kristalglase vir die wyn, goue engele. Dis ’n bruilof, en vandag frons niemand oor oordaad of uitspattigheid nie. Alles mag maar, en hier is dit!

Prof. Tessa van der Merwe (44) betrag die onthaalsaal waar haar sprokiestroue nou-nou gevier gaan word, oopmond van verwondering.

Waar sy aan die bopunt van die trap staan, lyk sy soos ’n Hollywood-ster wat net wag op die teken om na benede te swiep. Haar oë rus op die wonder aan haar voete en haar hart klop kedoef-kedoef in haar binneste. In die kerkie wag haar bruidegom, omring deur goue engele en room en pienk rose wat oorvloedig uit kruike peul.

Die bruidstafel is gedek met antieke silwer eetgerei. Glashouers met wit en pienk rose voltooi die prentjie. Haar gaste sal aansit omring deur goue engel-kershouers terwyl hulle uit kristalglase drink.

By elke sitplek wag ’n aanhaling van die vermaakster Nataniël, ’n persoonlike held van die dokter en die inspirasie agter die flambojante troue: “Romanse is soos die teater, die verhoog waar jy jou met die beste beligting, woorde, postuur, klere, kostuums, toewyding, beplanning, afwagting, toorkrag en belofte kan aanbied . . .’’

Daar is nou wel nie mense met vlaggies langs die strate nie en jy kan nie teekoppies met die paartjie se gesigte daarop koop nie, maar dit het Tess en dr. Gary Fetter, ’n chirurg, nie gekeer om in egte bloubloedstyl bruilof te hou nie.

Tess, ’n endokrinoloog en assosiaatprofessor aan Wits en verskeie oorsese universiteite, verruil vandag vir ’n wyle die sober en stemmige wêreld van die geneeskunde vir ’n ander een waarop sy heimlik lewenslank al verlief is: romanse, drama, ’n viering van die lewe. Die paar rampspoedige verhoudings van die verlede is veilig in die vergetelheid weggebêre – vandag is sy die trotsste bruid, en met die koste het sy nie ’n saak nie.

In die omtes in Pretoria waar sy vandaan kom, kos troues in die omgewing van R250 000. Maar vandag blaas Tess R1 miljoen op haar droomtroue, en sy doen dit met ’n glimlag.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 7 April 2011