Dis skroeiend warm buite, maar toe die 78-jarige Marie-Lou de Vries die voordeur van haar meenthuis hier op Parys oopmaak, tref ’n koel briesie jou in die gesig. Binne suis die lugreëling saggies. “Maak toe die deur, maak toe!” sê sy, “anders maak ons die hele dorp koud!”

Op dié Vrystaatse dorp staan sy as die “briefskryf-tannie” bekend, wat hoeka net verlede week die 1007de brief aan haar dogter in Amerika gepos het. Met die hand geskryf, die leste een, vertel sy terwyl ons in die sitkamer gerieflik raak.

Aan die een kant van die tafel staan ’n bord koekies. “Self gebak,” spog die afgetrede Engelsonderwyseres wat 30 jaar op Fochville skoolgehou het. En aan die ander kant, vyf geadresseerde koeverte wat sy nog vandag moet gaan pos.

[caption id="attachment_65685" align="aligncenter" width="600"]Foto: Fanie Mahuntsi Foto: Fanie Mahuntsi[/caption]

Die boonste koevert is gerig aan “Huisgenoot Blokraai”. Dié voltooi sy elke week om haar “brein jonk te hou”.

Dan, glas water in die hand, vertel sy die storie van al daardie briewe wat die afgelope 17 jaar oor die wye oseaan gevlieg het na die Ooskus van Amerika en Bar Harbour, Maine. Haar dogter Mimi Dickson is daar ’n professor in biochemie aan die Jackson-laboratorium, ’n biomediese navorsingsentrum.

Elke Sondag sit sy hiér, vertel Marie-Lou, en beduie na die tafel. Dan vat sy vir Mimi die week se hoogtepunte saam in ’n brief van ongeveer ses bladsye.

“Sommer die alledaagse dinge wat ek die week gedoen het, jy weet. Of hoe die weer is, en ’n bietjie van die grootste nuusdinge in die land, of wat die mense hier rond te vertelle het. Van almal se doen en late. En as ek die week ’n lekker grappie gehoor het, vertel ek hom ook!” Sy nommer elke brief boaan die eerste bladsy.

[caption id="attachment_65686" align="aligncenter" width="600"]Marie-Lou de Vries Foto: Fanie Mahuntsi[/caption]

“Van al die briewe het daar nog net twee of drie weggeraak! Kan jy nou meer!” En haar gesig plooi van die lekkerkry toe sy begin lag. Mimi gooi ook nie die briewe weg nie, maar hou “alles in ’n boks in die garage”, vertel Marie-Lou. Maar Mimi skryf nooit terug nie. “Nee jong, vir daai kind is dit ’n pyn om ’n pen op papier te sit. Die klein hel!”

Sy bel liewer. Elke Sondagoggend nadat sy daar in die verre Maine uit die kerk gekom het. Dan is dit al amper tyd vir ma Marie-Lou se middagslapie hier in Parys.

“Ek gaan lê so ’n bietjie skuins net ná twee se kant en wag vir die telefoon. Dan lui sy en ons gesels lank. Jy weet, soms tot ’n halfuur. En wanneer ons klaar gepraat het, dan maak ek my ogies toe.”

Marie-Lou glo nie in e-pos óf ’n rekenaar nie. “Wat! Daai ding is mos ’n verneuker!” roep sy verontwaardig uit. “Dis ’n ding van die duiwel!” Sy het in elk geval nie ’n rekenaar nodig nie, want sy hou sedert 1964 met pen en papier dagboek van alles wat elke dag met haar gebeur.

Vra haar gerus wat die reënval op 12 Februarie 1975 op haar en haar oorlede man Jannie se plaas in die distrik Fochville was; sy trek ’n hardeband A4-skryfboek, een van 114 bladsye, nader en vertel jou.

Sy is besig om dié boeke stelselmatig deur te werk en op te som in een samevattende joernaal. “Sodat wanneer iemand my iets vra, ek dadelik die antwoord in een boek kan kry.”

Sy blaai deur die nuwe joernaal, waarin sy nou by die jaar 1983 trek. Haar oë sien iewers ’n inskrywing. Dan begin sy lag. “Nee! Dis is nie vir publikasie nie!” sê sy en klap die boek vinnig toe . . .

Deur Jaco Hough-Coetzee

Foto’s: Fanie Mahuntsi