MET die euforie van die Fifa wêreldbekersokkertoernooi nog vars in die geheue het sportliefhebbers lippe afgelek vir ’n skouspelagtige Drienasies-rugbyreeks.

Maar ná ons spanne se skittervertonings in die Super14-reeks toe die Blou Bulle die tweede jaar na mekaar koning gekraai het, was die Bokke se drie agtereenvolgende nederlae in die Drienasies-reeks soos ’n emmer yskoue water in die gesig.

Uit alle oorde het harde woorde geval en hul breier, Peter de Villiers, is erg oor die kole gehaal.

Die Australiese sportkommentator en voormalige Wallaby-speler Brendan Cannon het skaars verskoning gevra omdat hy hom ‘‘ ’n nar’’ genoem het toe Spiro Zavos, sportskrywer van die Sydney Morning Herald, terugkap met: ‘‘De Villiers en die Springbokke is nie net narre nie; hulle is gevaarlike narre.

Hul aanvalle op skeidsregters, hul weiering om die spelreëls te aanvaar en ook regverdige strawwe wat aan boefagtige spelers opgelê word, hul aanvalle op ander afrigters en die absurde bewerings van ’n sameswering teen die Springbokke is alles deel van ’n poging om die beste elemente van moderne rugby te ondermyn.’’

Die Bokke is nou nie meer die dominante krag in internasionale rugby nie, het Spiro die mes nog ’n bietjie dieper ingesteek; hulle is nou maar ’n bra middelmatige span.

In Suid-Afrika het rugbyskrywers ook ingeklim en uitgewe oor die Bokke se verbeeldinglose spel, afgesaagde taktiek, swak spankeuses en gebrek aan leierskap.

Om sake vir Peter nog warmer te maak het sy voorganger, Jake White, boonop aangekondig hy gaan homself ná aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi weer as Bok-afrigter beskikbaar stel...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 5 Augustus 2010

Bespreek vir Skouspel!