Dié voorskou deur die rolprentvervaardiger Richard Finn Gregory handel oor die groepie Afrikaners in Patagonië, Suid-Amerika, wat vandag nog Afrikaans praat. Hulle was nog nooit in Suid-Afrika nie, maar vra jy wat hulle nasionaliteit is, sê ’n man in verstaanbare Afrikaans: “Ek is eerste ’n Suid-Afrikaner.”

Richard se voorskou van Boere op die Aardsdrempel, ’n kortprent deur The Good Work Picture Company, handel oor die sowat 800 Afrikanergesinne wat ná die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1901) besluit het om Suid-Afrika, wat toe onder Britse bewind was, te verlaat.

Richard is Engelssprekend en sê hy was aanvanklik nogal senuweeagtig voor hy die Boere gaan opsoek het, juis oor sy huistaal, maar die mense het hom met ope arms ontvang. “Dit het gevoel asof ek na ’n voorkamer op ’n Karoodorp weggevoer is, maar ons was in die middel van Patagonië! Hulle het my regte, warm Afrikaanse gasvryheid aangebied en ons het ure gesit en gesels oor koppies tee.” Hy sê, al wat vir hulle belangrik was, was “dat ek met hulle Afrikaans kon praat en dat ek van hulle land af kom”.

Richard sê dit het hom laat nadink oor hoe baie Suid-Afrikaners eintlik gemeen het. “Afrikaans is eintlik baie meer deel van my identiteit as wat ek gedink het. Miskien is ons Suid-Afrikaners te vasgevang in al ons kultuurverskille.”

Suid-Afrikaners, hier én in die buiteland, se reaksie was oorweldigend, sê Richard. Meer as 2 000 mense het binne twee dae van die kortprent se Faceboek-blad gehou. “Daar is nog iets op my emmerlys: Besoek die Afrikaner in Argentinië!” skryf ’n aanhanger, Dean Kayton. Nog een, Mari Erasmus, skryf dat haar man se oupa daar gebore is en toe teruggekeer het na Suid-Afrika en dat haar skoonma steeds kontak het met niggies en neefs in Argentinië. “Baie dankie vir die wonderlike dokumentêr. So belangrik om die taal en kultuur te behou. Kan nie wag vir die volledige projek nie,” skryf Ernus Bothma uit Nieu-Seeland.

Die fliek word in Engels, Afrikaans en Spaans uitgereik. Vir nog inligting oor dié kortprent en waar dit te sien sal wees, sluit aan by die Facebook-groep. Of besoek na The Good Work Picture Company se webstuiste. 

Dalena Theron

Kyk die voorskou hier: