Die gewag is eindelik verby en die tweede seisoen van Die Boekklub begin Dinsdagaand (11 Julie) op kykNET.

Kykers gaan weer ’n kykie kry in die lewe van ’n groep inwoners van Merweville in die Karoo wat lid is van ’n boekklub.

Die hoofkarakter, Tom (Armand Aucamp), en ander boekklublede, soos Sophia (June van Merch), Hanlie (Nicole Holm), Anna (Jana Cilliers), Herman (Arno Marais) en Gerwin (Lee-Ann van Rooi), beleef almal weer verskeie opwindende avonture. 

Boeke boeke boeke... #Boekklub #set

A post shared by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

Die groot vraag is natuurlik of Lillie (Christia Visser) van haar fotografie-internskap in Frankryk gaan terugkeer? 

Kykers sal maar moet kyk wat gebeur. Maar hier is van die opwinding wat ons kan verklap:

  • Daar gaan twee troues, ’n geboorte en ’n begrafnis wees.
  • Die rol van Altus, Tom se beste vriend en Herman (Arno Marais) se kêrel, is voorheen vertolk deur Louw Venter. Louw was nie vir die verfilming beskikbaar nie en sy karakter word in die nuwe reeks vervang deur die akteur Stian Bam. Dit gaan egter steeds baie goed met Altus en Herman se verhouding, al maak Altus ’n besluit wat hul lewe in ’n heel nuwe koers stuur.
  • Twee nuwe karakters waarna kykers kan uitsien, is ’n beneukte vroulike veeboer en haar dogter. Kykers sal in die tweede aflewering uitvind watter gewilde gesigte dié karakters gaan speel.  
  • Daar is ook ’n nuwe speurder, Lourens, in die dorp. Die akteur De Klerk Oelofse gaan die karakter se skoene vol staan en diep in kykers se hart inklim. 
  • Dit gaan ooglopend goed met Hanli (Nicole Holm) en Johan (Anrich Herbst) se verhouding. Hanli se swangerskap is alles behalwe maklik op 40 en die terugkeer van hul dogter, Kara (gespeel deur Karli Heine), gaan hul wêreld op sy kop keer. Kara kom bly weer op Merweville nadat sy opgeskop.
  • Anna (Jana Cilliers) gaan deur die loop van die tweede reeks tot haar uiterste beproef word, en sal moet aanvaar sy is ook maar net ’n mens. 

Sy kry net gou die woorde in haar kop... #JanaCilliers #dieboekklub2

A post shared by De Klerk Oelofse (@de_apie) on

  • Sophia (June van Merch) en haar hanslamkind, Tom (Armand Aucamp), kan mekaar steeds lekker verkeerd opvryf, en binnekort gaan Tobias (Cedwyn Joel) se gedrag Sophia baie agterdogtig maak.
  • Louis Pretorius (medeskrywer van Vallei van Sluiers en Die Boland Moorde) het weer die 13-episode dramareeks geskryf. 
Die Boekklub word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.