’n Volle 30 weke swanger! Teen die tyd dat julle hier lees, sal ek sekerlik al amper 31 weke swanger wees.

[caption id="attachment_147505" align="alignnone" width="604"]Alishia saam met haar man, Steve. Foto: Verskaf Alishia saam met haar man, Steve. Foto: Verskaf[/caption]

Ek kom agter hoe langer die jaar nou neem om klaar te maak, hoe korter word die humeure en mense se verdraagsaamheid teenoor mekaar. Ek is self skuldig hieraan en kan voel my hele sisteem dui nou aan dis tyd vir rus. Ek kry warm, het aanhoudend hoofpyn, lyk van kop tot tone soos ’n blaasoppie, het ’n vuur in my keel en my klere pas alweer nie.

Tog glo ek nie moegheid of “einde-van-die-jaar-sindroom” gee enigiemand ’n rede gee om iemand anders sleg te behandel nie.

So twee weke gelede het ek ’n baie aaklige ondervinding gehad. Ons was by ’n geleentheid in ’n groot winkelsentrum en in hierdie stadium van my swangerskap moet ek letterlik elke 15 tot 20 minute gaan piepie. Ek is baie gesteld daarop om ’n openbare toilet se deur toe te maak en te sluit. Omdat my watervlak weer by my oë getrek het, hardloop ek gou weer in by ’n restaurant waar ons vroeër die middag geëet het, maak die deur toe, sluit dit en gaan sit.

Lees ook: ‘Ek begin nou bang raak vir die geboorte,’ vertel hoogswanger 44-jarige leser

Ek sit skaars, toe stamp iemand die deur oop. (Duidelik sluit dit nie behoorlik nie.) Ek het my boeglam geskrik toe die blonde vrou met die blou satyntop en swart langbroek meteens in die toilet vir my en staan en kyk.

Omdat ek nou swaar is en moeilik opstaan, kan ek onmoontlik opspring en die deur weer toemaak. Ek probeer met my voet daarby uitkom, maar enigiemand wat al so ver swanger was, sal weet jy kan nie ’n deur toeskop terwyl jy ’n massiewe maag het nie. En as jy sou opspring, sal jy jouself sopnat piepie.

Dit was ’n baie ongemaklike situasie en ’n groot verleentheid.

Geskok sê ek: “Please just close the door.”

Maar sy skree: “Why did you not lock the f****** door?”

Ek: “I did, but I think it did not lock properly. I am so sorry, but please just close the door.”

Teen dié tyd het sy gelukkig al uitbeweeg en kyk nie meer vir my nie, maar sy begin verder skree en met my baklei: “Don’t talk s***! You are just one of those people who don’t lock doors!” Almal in die restaurant kan haar hoor.

Ek (terwyl die trane begin loop): “I am so sorry. Please just close the door.”

Kan julle glo: Sy maak eenvoudig nie die deur toe nie; sy los dit net so oop. Ek, sewe maande swanger en weerloos in ’n restaurantkleedkamer, sit met my broek op my enkels, te groot om vinnig te beweeg, hormone wat bruis, trane wat rol en so verleë dat ek nie weet watter kant toe nie.

Lees ook: 44-jarige leser deel swangerskapreis met Huisgenoot – ‘ek is te sensitief’

Toe ek klaar is, besluit ek om my trane af te vee en met waardigheid hande te was, uit te loop en weer verskoning te vra. Toe ek uitloop, staan sy daar, maar met woede en haat in haar oë.

Ek kyk vir haar en weet sy moet kan sien ek is swanger. Weer sê ek: “I am so sorry, but I really thought the door was locked.”

Sy antwoord: “Please, don’t talk nonsense, you bloody idiot!”

Toe loop ek net uit – deur ’n restaurant vol mense wat my sit en aanstaar. Dit het my herinner aan daardie gesegde: “Never argue with a fool, because she will drag you down to her level and beat you with experience.”

Buiten hierdie onaangename ervaring word ons uit ons nate geseën, want tot dusver verloop alles so mooi. Ons dogter groei pragtig! Die ouer mense het mos altyd gesê as jy baie sooibrand kry, gaan jou kind baie hare hê. Nou ja, ek dink sy gaan, want ek het nog nooit so baie sooibrand gehad nie! Nie dat ek alles glo nie, maar ek gaan haal maar so in my brein se argiewe wat ek al gehoor het.

My hospitaalbed is bespreek, die stootwaentjie en karstoel is gekoop, die bababed is in die kamer en ons het ’n ongelooflike “celebration of life” (ooievaarstee) gehad. So baie van ons vriende en familie het saamgekom om die lewe te vier en ons het soveel geskenke ontvang.

[caption id="attachment_150240" align="alignnone" width="600"]Jouba Jordaan (Kaleidoskoop), Anique Jordaan (Kaleidoskoop), Marno van der Merwe, Sharoney, Steve van Deventer, Alishia, Herman Steyn, Douw Steyn en Joshua na die Reën. Foto: Johann Perie Jouba Jordaan (Kaleidoskoop), Anique Jordaan (Kaleidoskoop), Marno van der Merwe, Sharoney, Steve van Deventer, Alishia, Herman Steyn, Douw Steyn en Joshua na die Reën. Foto: Johann Perie[/caption]

Lees ook: ‘Swanger…en dit op 44!’

[caption id="attachment_150239" align="alignnone" width="600"]Kyle Grant (ADAM), Wihan Elman, Jay Loots, Steve van Deventer, Alishia, Reynardt Hugo (ADAM), Israel Holtzhausen en Hugo Ludik (ADAM). Foto: Johann Perie Kyle Grant (ADAM), Wihan Elman, Jay Loots, Steve van Deventer, Alishia, Reynardt Hugo (ADAM), Israel Holtzhausen en Hugo Ludik (ADAM). Foto: Johann Perie[/caption]

Weereens het ons besef hoe baie mense ons liefhet en vir hoeveel mense ons kan lief wees.

Hierdie week gaan ons vir die 4D sonar. Ek kan nie wag nie! Ek is so opgewonde, ek google al ander babas se 4D sonars en staar dan ure lank daarna.

Januarie, wanneer ons terugkom van vakansie af, gaan ons tasse pak wat in die kar moet bly as sy dalk besluit om onverwags te kom.

[caption id="attachment_150241" align="alignnone" width="600"]Alishia en Steve. Foto: Johann Perie Alishia en Steve. Foto: Johann Perie[/caption]

Die laaste paar maande was dit omtrent ’n uitdaging om ’n balans tussen werk en die swangerskap te handhaaf. Selfs wanneer ek nie goed gevoel het nie, moes ek myself druk om steeds die nodige te doen.

Tog is dit verstommend hoe ’n mens eenvoudig opstaan, aangaan en iewers die tyd en krag kry om by alles uit te kom. Wat my verras, is hoe ek voor my swangerskap nooit tyd gehad het om selfs ’n middag af te vat nie; daar was net altyd te veel om te doen.

Vandat ek swanger is, moet ek die ginekoloog maandeliks besoek. Verbasend genoeg kan ek en my man ná elke besoek die middag alleen saam deurbring en ons opgewondenheid en geluk met mekaar te deel. En ek kom steeds by alles uit.

[caption id="attachment_150242" align="alignnone" width="600"]Alishia en haar dogter, Danelle Liebenberg. Foto: Johann Perie Alishia en haar dogter, Danelle Liebenberg. Foto: Johann Perie[/caption]

Ek dink my dogter kom om my balans te gee. Wel, dit is sekerlik een van die redes hoekom sy op pad is . . . Ek dink daar is soveel planne met hierdie kind se lewe. Die wete dat ’n mensie met ’n siel, gees, liggaam en eie persoonlikheid binne my groei, is die grootste wonderwerk wat ek opnuut beleef. Ook die feit dat God haar aan ons toevertrou – wat ’n voorreg.

Haar naam gaan Mia wees! Die naam is van Hebreeuse, Latynse en Skandinawiese oorsprong en beteken “geliefd”, “myne”, “die een” en “kind waarvoor gehoop is”.

Toe ek dit raaklees, was ek nogal stomgeslaan, want ons het nooit beplan vir ’n kind nie, maar toe dink ek aan wat die Bybel sê: God sien ons hart se diepste begeertes raak en weet wat ons nodig het nog voor ons daarvoor vra (Matt 6:8).

Iewers diep in ons harte het ons dalk tog vir Mia gehoop en het ons haar nodig – ons het dit net nooit besef nie. Sy is reeds deel van ons lewe – so asof sy nog altyd moes kom.