Een van die grootste verrassings van die kampioenskap was die sesde gekeurde Kanadees, Milos Raonic, wat Roger Federer in die semi-finaal op sy baadjie gegee het. Milos is ook die eerste Kanadees wat tot nou toe tot dié ronde deurgedring het. Vandag het hy teen Engeland se groot hoop, die tweede gekeurde Andy Murray, op die hoofbaan verskyn. Die Kanadees was tot vandag toe die man met die vinnigste afslaan by Wimbledon 2016 – hy het Roger Federer met ’n vuurpyl van 231,7 km per uur gepeper!

In die wedstryd vandag teen Andy het hy nog verder gegaan met sy afslaanspoed: 236,5 km per uur! Nog net Taylor Dent het ’n vinniger afslaan as hy op Wimbledon behaal: 238,1 km per uur in 2010.
Vir Engeland én Andy Murray was vandag die hoop op ’n derde titel op die spel.
Boonop was daar langs die baan nog ’n subtiele kragmeting tussen die twee se onderskeie afrigters, Ivan Lendl en John McEnroe!
Die Britse eerste minister, David Cameron, het ook sy steun aan Andy toegesê met ’n oproep aan sy ondersteuners: #BacktheBrits
So gepraat van ondersteuners. Ene Graeme Durno is ongetwyfeld een van Andy se grootste aanhangers. Die man is pas na uit die hospitaal ontslaan nadat hy ’n maand gelede deur ’n vier ton trok getref is. Hy was vasberade om vandag fisies by Wimbledon te wees om vir Andy te ondersteun, al sou dit hom dalk sy lewe kos.
Soos die gebruik, word ’n spesiale persoon aangewys om daardie lootjie vir die finaal te beslis. Vanjaar was dit Yousef Maza.
Maar natuurlik gaan dit by Wimbledon meer as oor die tennis, aarbeie en room. Dit gaan ook ook wie daar was - van Hollywood se blinkste sterre tot tennislegendes en natuurlik die koninklikes wat dit bywoon. Hier's van die bekendes wat deur die kamera-oog opgespoor is. Benedict “Sherlock” Cumberbatch het vergrootglas vir tennis verruil vir die dag.
Andy Murray se vrou, Kim, het modebwustes die hele toernooi al aan die gons met haar daaglikse uitrustings.
Andy se ma, Judy, was soos gewoonlik ook teenwoordig om haar seun te ondersteun.
Terloops, wat kan nou meer “Brits” wees as betiteldes?
Die uitgelese spannetjie in die koninklike losie.
Die Britse aktrise Lily James, bekend vir haar rol in Downton Abbey, het al te fraai in haar kolletjie-uitrusting gelyk.
Prins William se byderwetse baadjie het heelwat aandag getrek.
Die koninklike paartjie lyk nog ontspanne met die aanvang van die wedstryd.
Dagsê, mater: Benedict Cumberbatch en Bradley Cooper.
Bradley en Irina Shayk is groot tennisgeesdriftiges en was gereeld die afgelope week by Wimbledon te sien.
David Cameron, sy ma en Skotland se eerste minister, Nicola Sturgeon, geniet ook ’n goeie uitsig vanuit die koninklike losie.
Maar waar’s die ander tien spelers? Manchester United se sokkerbaas, Jose Mourhino, lyk nie baie beïndruk met die heen-en-weer speletjie nie.
Maak nie saak hoe spannend die wedstryd nie, daar’s altyd tyd vir ’n selfie, of hoe, Björn Borg?

Nog ’n tennislegende. Boris en vroulief Lilly Becker het elke spannende oomblik van die wedstryd gevolg.

Is dit net ons wat verkeerdom kyk, of hou Irina Shayk daardie boek onderstebo?

Prettige oomblik tussen Luke “Fast & Furious 6” Evans en die model, Poppy Delevingne.
“Ek vermoed die sonlig is te skerp,” is wat prins William moontlik te sê het. Enkele oomblikke hierna het die twee hul sonbrille opgesit.

A photo posted by Wimbledon (@wimbledon) on

Vier wedstrydpunte en ’n wenner? Die jare het nie sagkens met die wêreld se gunsteling-bruilofgas, Hugh Grant, te werk gegaan nie.

O, Brexit! Hoe kon Andy daardie een verbrou?!

Sir Cliff Richard het ook sy verskyning langs die hoofbaan gemaak.
En toe's als verby! 'n Verheugde Andy Murray gooi sy raket dat dit doer trek en die skare gaan absoluut stapelgek.
Na die opwinding, kon Andy Murray nie sy emosies en trane in toom hou nie.

Dankie Wimbledon, tot volgende jaar!