“Die koers van persoonlike belasting sal met een persentasiepunt opgeskuif word vir alle belastingbetalers wat meer as R181 900 per jaar (R15 158 per maand) verdien,” het Nene in sy eerste groot begroting in die Nasionale Vergadering gesê.

“Dit stoot die belasting met R21 per maand op vir ’n belastingbetaler jonger as 65 jaar met ’n jaarlikse inkomste van R200 000. Dié wat R500 000 verdien, sal R271 per maand meer betaal en teen R1,5 miljoen per jaar sal die belastingstyging R1 105 per maand wees.”

Belastinggroepe, korting, mediese skemas en bydraes tot mediese fondse sal vir inflasie aangepas word. “Die netto effek is belastingverligting onder R450 000 per jaar, terwyl dié met ’n hoër inkomste meer belasting sal betaal,” het Nene gesê.

Die belastingvry-drumpel vir individue sal van R70 7000 tot R73 650 styg.

Soos verwag, het Nene sondebelasting verhoog.

  • Die belasting op ’n kwart gelling bier sal met 15,5c styg.
  • Wyn sal 15c meer per bottel kos terwyl vonkelwyn se prys met 48c sal styg.
  • Whiskyliefhebbers sal R3,77 meer per bottel betaal.
  • Rokers sal 82c meer vir ’n pakkie sigarette opdok.

’n Tydelike styging van die elektrisiteitsheffing is ook aangekondig. Die heffing sal van 3,5c per kilowatt uur na 5,5c styg. “Die addisionele 2c/kWh sal teruggetrek word wanneer die elektrisiteittekort verby is,” het Nene gesê.

Vir alles oor vanjaar se begroting, besoek FIN24.com.