Die sangeres en aanbieder van Skoonma-Se-Tong op VIA, Amor Vittone (44), gaan vanaand vir die eerste keer in die sepie te sien wees.

Sy vertolk die rol van Deirdre Wolhuter, wat Mariaan Welman speel, se haarkapper-suster, Zelda, en kykers kan seker wees sy gaan die vere in Hillsde kom skud. “My karakter se naels is baie lank en sy dra haarverlengings, maar dis bo-op haar kop ge-tease, so dis asof sy ’n bietjie van ’n mullet het,” sê Amor en lag.

[caption id="attachment_147991" align="alignnone" width="600"]Oe-la-la! Kyk hoe sexy lyk Amor! Foto: Verskaf Oe-la-la! Kyk hoe sexy lyk Amor! Foto: Verskaf[/caption]

“Ek is nogal senuagtig omdat dit die eerste keer is dat ek myself in ’n sepie gaan sien,” erken sy. “Ek is vanaand by my kinders se skool vir ’n geleentheid, dus sal ek nie die episode dadelik kan kyk nie, maar ek sal dit later op Box Office kyk.”

Sy is onseker hoe mense haar toneelspel in ’n sepie gaan ontvang. “Jy kan tien goeie reaksies kry en die een wat nie goed is nie, sal jou heeltyd pla. In die verlede sou dit my baie erg gepla het, maar jy bereik ’n stadium waar jy besef: Ek is 44; ek is oor dit. Ek weet ek het die beste gegee wat ek kon en dit was vir my ’n ongelooflik opwindende en lekker ervaring.”

Sy vertel daar is min tyd om vir ’n sepie voor te berei.

“Jy het ’n 12 uur lange dag en as enkelma sou ek saans by die huis kom, dan doen ek huiswerk saam met my kinders en sit hulle om negeuur of halftien se kant in die bed. En dan klim ek in die bad. Dis gewoonlik wanneer ek ontspan.

“Ek steek vir my kerse aan en gooi lekker badseep in. Badtyd is reeds laat en ek sou dan eers begin woorde leer. En dis monoloë en monoloë vir agt tonele op ’n dag - en my karakter kan praat,” verseker Amor. “Sy is in daardie opsig nes ek.”

Amor vertel haar hart het verskriklik geklop wanneer hulle verfilm het.

“Jy moet heeltyd bybly en alles gebeur baie vinnig. Dis soos ’n worsmasjien. Ek dink die adrenalien gee jou daardie inspuiting om dit te kan doen. 7de Laan het gelukkig ook uitstekende dialoog-afrigters. Mense onderskat sepiesterre en die werk wat hulle insit. Dit was vir my die moeilikste vorm van vermaak wat ek nog ooit aangepak het.”

Sy het dit baie geniet om Deirdre se sepiesuster te speel. “Sy is ’n baie goeie aktrise en ek het van haar af gevoed. Sy gee jou baie om mee te werk en ek het heelwat wenke by haar gekry.

“David Rees (Chris Welman) was ook ongelooflik. Ek moes baie teenoor hom speel en ek ken hom al jare. Omdat ons mekaar ken, was daar natuurlik lekker chemistry tussen ons en dan sal die produksiespan vra of ons nie ’n bietjie ons chemistry kan laat sak nie.

“Maar dis moeilik, want ons ken mekaar al sedert Egoli se dae. Ek het destyds Egoli se danse afgerig vir verhoogproduksies wat die akteurs in winkelsentrums gedoen het en David was deel van die groep wat ek afgerig het.

“Dis nogal intimiderend om teenoor hom te speel omdat hy so goed is. Jy kom in ’n toneel in en jy wil nie teleurstel of mense se tyd mors nie,” verduidelik Amor.

[caption id="attachment_147990" align="alignnone" width="600"]Amor en David saam! Foto: Facebook Amor en David saam! Foto: Facebook[/caption]

“ ’n Mens het net 10 minute om jou ding te doen. As jy moet huil, moet jy gou huil. Daar was juis ’n toneel aan die einde waar ek moes huil. Toe ek nog ’n student was, het ek deeltyds metodetoneelspel studeer. Ek het weer boeke daaroor gelees. Met daardie spesifieke toneel was dit asof ek nie eens in my lyf was nie. Dit was asof ek van bo af afgekyk het, want iets het gebeur toe my karakter teleurgestel is en erg moes huil,” vertel Amor, wat alles vir die toneel gegee het.

“Die kameraspan het saam gehuil. Ek het so gebewe, toe hulle sê Cut!, toe sak ek amper inmekaar. Dit het my tien minute gevat om weer my bewussyn te herwin.”

Sy geniet die karakter omdat Zelda soveel persoonlikhede in een is: kommin, manipulerend, wreed, nice en volwasse. “Sy het soveel fasette en dit was ’n heerlike uitdaging.” Sy sal ’n maand lank in 7de Laan te sien wees.

Amor is ook volgende jaar van Mei by Emperors Palace in Johannesburg op die verhoog te sien as die bose fee Belladonna. Sy speel teenoor Charlize Berg en Marno van der Merwe in Doringrosie – die Slapende Skone.

“Ek is opgewonde om ’n rol te vertolk wat iets anders as ek is, want mense ken my as Amor die Lotto-meisie of die danseres.

“Ek is op ’n ouderdom waar ek so ’n karakter kan speel. Daar is lekker baie manipulasie, skynheiligheid, maar daar is ook iets sexy en energiek. Ek is veral opgewonde oor die feit dat ons gaan dans, sing en toneelspeel.”