Dit sluit twee kamers in vir die eertydse Spice Girl se skoenversameling.

David en Victoria Beckham het R652 miljoen vir hul nuwe huis betaal, en wil glo nog R81,5 miljoen aan opknappings bestee.

Die egpaar het glo groot planne vir hul herehuis. Dit sluit in twee kamers vir die eertydse Spice Girl se skoene, en ’n waterdigte plasma-TV in elke badkamer.

’n Bron het aan The Sun on Sunday gesê: “Hulle werk volgens ’n nuwe rooster sedert David as ’n sokkerspeler afgetree het. Die nuwe plek is ’n projek en ’n plek vir die kinders, veral vir Harper.

“Dit sal die huis wees waarin sy sal grootword, en watter wonderlike kinderjare sal sy nie hê nie!”

Die sterre se ander kinders is Brooklyn (14), Romeo (11) en Cruz (8). Die egpaar wil hul nuwe huis in Wes-Londen verander om aan al hul behoeftes te voldoen. Dit sluit glo ’n kamer in vir “haarkappery, manikure en grimering”.

Die tweede verdieping is glo die kinders s’n, en elke slaapkamer het ’n en suite-badkamer. Op die vloer bokant hulle is die gastekamers, met hul eie kroeg.

Parkering is onder die huis. Op die grondvloer is ’n studeerkamer, gimnasium en masseerkamer, drie dienskamers en ’n tuin.