Sophia, Emma, Olivia, Ava en Mia. Jackson, Aiden, Lucas, Liam en Noah.

Meer as 40 000 ouers het in 2016 hul babaname met die webtuiste babycenter.com gedeel en dit was die topvyfname vir meisies en seuns.

Maar watter name gaan in 2017 die gewildste wees?

Die vrouetydskrif Harpers Bazaar voorspel dit gaan onder meer Belle, Bella, Eleven en Meghan  wees - bloot omdat dit name is wat mense in 2016 aan die praat gehad het.

Belle? Die nuwe weergawe van Disney se Beauty and the Beast word volgende jaar uitgereik en die beeldskone slimkop Emma Watson vertolk die hoofrol van Belle. En as jy dalk wonder waarom dié fliek babaname kan beïnvloed, kyk gerus weer na die lokprent.

  Die naam Eleven gaan moontlik dikwels opduik as gevolg van die Amerikaanse televisiereeks Stranger Things. Eleven is die naam van een van die hoofkarakters. Bella. Nee, dit is nie weer Bella van Twilight-faam wat dié naam gaan inspireer nie; dit is die model Bella Hadid.

A photo posted by Bella Hadid (@bellahadid) on

Baie babas gaan heel moontlik ook Meghan heet omdat die Suits-aktrise wat tans met prins Harry uitgaan, dalk eendag ook ’n prinses gaan wees.

Ander name wat na raming hoogty gaan vier, sluit in Donald (ja, na Donald Trump), Hillary en Michelle.

Die webtuiste nameberry.com voorspel ook ander gewilde name gaan dié wees wat deur die Britse reeks Downton Abbey geïnspireer is, soos Sybil, Rosamund, Edith, Isobel, Daisy, Elsie, Marigold en Mary.

Altesaam 134 babaseuns is verlede jaar Bear gedoop. Dierename vir jou spruit is dus ook iets wat besig is om gewild te raak, glo dit of nie! Nameberry voorspel name soos Puma, Jaguar of Python. Kan jy jou indink? Kom hier, Tier!