“Ek is doodseker Dilan dink hulle is van dieselfde spesie omdat hulle ewe hoog is en albei deur die fase gaan waar hulle aan alles kou,” sê Dilan se ma, Ivette Ivens, ’n fotograaf van Chicago in Amerika. Sy het Farley lid van die gesin gemaak toe sy besef hy en haar seun is op dieselfde dag gebore: 26 Mei 2014. Dilan en Farley het “onmiddellik” ’n spesiale band gehad. Hulle doen alles saam: slaap, speel, eet en selfs bad. “Farley speel geduldig met Dilan en probeer om nie te snork wanneer hulle albei slaap nie. Dis regtig die liefdevolste band – suiwer, onvoorwaardelik, onvervangbaar en onafskeidbaar,” het Ivette aan The Daily Mail gesê. Ivette sê die twee se verhouding raak ál hegter soos hulle ouer word. “Soos Dilan groter word en meer verstaan, waardeer hy regtig Farley se geselskap en die liefde blom tussen die twee. My klein Dilan is ’n rustige baba en altyd gelukkig, maar om die een of ander rede laat Farley hom altyd nog lekkerder lag. Ek is mal daaroor om hulle saam te sien. Hy maak skoon waar Dilan gemors het nadat hy geëet het en lek altyd Dilan se nek wanneer hy huil, en dan begin lag hy hardop.” Bronne: huffingtonpost.com, dailymail.co.uk