Maddox Lawrence het in haar kort lewe veel meer deurgemaak as ander kleuters van dieselfde ouderdom. Die klein vegtertjie het kanker oorwin. Maar dit was juis haar herstel wat tot dié kleuter van 21 maande se grusame dood gelei het.

Haar ma, Morgan, het bekommerd geraak toe Maddox se pa op 20 Februarie vanjaar nie opdaag om haar by haar werk op te laai nie. Sy het ’n oproep ontvang van iemand wat haar ingelig het dat hul motor verlate in ’n parkeerterrein gevind is. Die sleutel was nog in die aanskakelaar. Maar Maddox en haar pa was skoonveld.

Haar lyk is in Februarie in die water naby Inner Harbor, Syracuse, gevind.

Haar dood – maar eintlik meer die grusame oorsaak daarvan – het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Binne 36 uur ná haar verdwyning is die persoon aangekeer wat vir haar dood verantwoordelik is: Ryan Lawrence (25) van New York. Dit was nie bloot toevallig dat die slagoffer en oortreder dieselfde van gehad het nie. Lawrence was klein Maddox se pa.

So het die soektog na Maddox verloop.

Op 23 Maart word Lawrence formeel van ontvoering en moord aangekla. So het Lawrence gelyk toe hy in hegtenis geneem is:  

Maddox se dood was nie weens ’n fratsongeluk wat hy probeer verdoesel het nie. Dit was erger, baie erger.

Eers het hy sy dogtertjie met ’n bofbalkolf doodgeslaan. Toe probeer hy haar verbrand. Einde ten laaste het hy haar oorskot aan ’n sementblok vasgebind en in Onondaga Creek naby Inner Harbor in Syracuse gegooi.

Nadat Maddox gevind is, het die familie hul dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hul ondersteuning.

Maar hoekom het Lawrence die gru-daad gepleeg? Volgens Bill Fitzpatrick, staatsaanklaer, het Lawrence self daarop gesinspeel dat jaloesie die motivering vir sy gru-daad was.

Dit het Lawrence dwars in die krop gesteek dat Maddox meer aandag as hy geniet het. Op Saterdagaand 20 Februarie het hy op een van die brutaalste maniere denkbaar van die bron van sy afguns ontslae geraak.

In Augustus het regter Anthony Aloi beslis dat Lawrence se bekentenis tydens sy verhoor gebruik kan word.

Op Donderdag 15 September 2016 het hy erken aan die moord op sy dogter. Hartverskeurende tonele het in die hof afgespeel.

Ryan Lawrence, die pa wat sy dogtertjie vermoedelik uit jaloesie vermoor het, sal in Oktober gevonnis word. Na berig word, sal hy in alle waarskynlikheid tussen 25 jaar en lewenslange gevangenisstraf opgelê word.

Bronne: cbs12.com, cnycentral.com, inquisitr.com, 13wham.com, twcnews.com, cnycenteral.com