DIS seker die ergste ding wat ’n man kan oorkom. Jy’t pas ’n vlymskerp opmerking gemaak; jy was eintlik dodelik onweerstaanbaar – maar toe jy vir haar ’n drankie wil koop, kyk sy jou aan asof jy pas op haar duurste skoene opgegooi het.

Nee wat, manne, dit werk nie meer om die sleutels van jou sportkoepee ewe ongeërg op die toonbank neer te gooi nie – sy’t waarskynlik haar eie. Dis waarom twee Johannesburgse manne wat meen hulle weet hoe, besluit het om vir al die sukkelaars daar buite te leer hoe om die meisie van hul drome te vang.

“Tye het verander en vroue het besef die keuse is regtig eintlik hulle s’n,” sê Andrew Meyer van Hired Guns Professional Pick-Up Artists, wat die afgelope twee jaar kursusse aanbied oor hoe om by vroue aan te lê.

“Vroue het verander, maar mans het nie daarby aangepas nie. Ons gaan steeds op die jag met dieselfde ou truuks van desjare: koop vir hulle drankies en probeer jou mees seepgladde optelstorie. Dit werk nie meer nie, maar tog hou ons by dieselfde ou roetine, en ons kry elke keer dieselfde teleurstellende resultate.”

Maar mans het groter problem as om net nuwe maniere te vind om die skoner geslag te beïndruk. Andrew sê die meeste ouens het vergeet hoe om mans te wees omdat die samelewing verander het en vroue nou ook nuwe verwagtinge van hulle het.

“Vroue soek mans wat hul vriende kan wees. Maar hulle soek ook mans met selfvertroue wat nie sukkel om die leisels te neem en besluite te neem nie. Terselfdertyd soek hulle nie iemand met te veel selfvertroue wat verwaand is nie.

“Wat ons vir ouens leer, is hoe om die ‘man’ – die persoon wat oorloop van selfvertroue – binne hulself te vind, en hoe om aan daardie persoon getrou te wees wanneer hulle in die openbaar is. Kortom, ons leer mans nie hoe om by vroue aan te lê nie. Ons wys hulle hoe om genoeg selfvertroue te hê om hulself te wees wanneer hulle by vroue is, en om nie te probeer om iemand anders in sosiale situasies te wees nie.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 18 November 2010.