Vroeg Maandagoggend het inwoners verskeie dorpe en stede in die noorde van die land geskud en geskrik toe ’n stewige aardbewing wat 5,2 op die Richterskaal registreer het, plaasgevind het. Kort duskant agtuur dieselfde aand was dit weer sulke tyd! Volgens Storm Report het dié skudding 6,8 op die Richterskaal registreer en was die episentrum daarvan in 131 km wes van Moijabana in Botswana.

Vanuit verskeie oorde het verbaasde reaksies op Facebook opgeduik. Ene Donné Kruger van Pretoria-Oos het gesê alles het omtrent vir drie minute lank gebewe.

Magda Hamman van Lichtenburg het dit as die "moeder van aardbewings" beskryf. Sy sê alles in haar huis het geskud – tot die stoele.

Cornel Grobbelaar van Montclair in Durban het gesê sy papegaai het homself byna doodgeskrik toe hulle die skudding ervaar. Gerdalize Bukes sê haar skilderye het teen die muur geskud. Sy bly in Vanderbijlpark. Tanya McCarthy van Rustenburg sê nie net haar skilderye nie, maar ook haar huis se deure en die sitkamerbank het ook geskud.

Twitter se reaksie